AfriForum-memorandum oor swak dienslewering in Vryburg


Die AfriForum-tak in Vryburg het gister ’n memorandum oor swak dienslewering in Vryburg aan verteenwoordigers van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit oorhandig. Die burgemeester en die munisipale bestuurder het egter nie opgedaag om die memorandum in ontvangs te neem nie.

“Die vlak van verantwoordelikheid wat hierdeur weerspieël word, blyk duidelik uit die gebrek aan dienslewering in dié dorp. Riool loop in die strate weens verstoppings wat nie herstel word nie en die dorp gaan weer gebuk onder beurtwater,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Die munisipale Eskom-skuld het sedert Januarie van R233 miljoen tot R254 miljoen gestyg. Die munisipaliteit se totale skuld beloop tans R450 miljoen en inwoners kry nie rekeninge vir dienste gelewer nie.

“Dit is duidelik dat die belange en welvaart van die gemeenskap van Vryburg nie vir munisipale amptenare belangrik is nie. Die plaaslike AfriForum-tak het reeds twee klagtes van bedrog teen Neo Skalk, burgemeester, gelê wat tans deur die Valke ondersoek word. Tshepo Bloom, munisipale bestuurder, se aanstelling is ook na bewering onregmatig en die AfriForum-tak plaas druk op die LUR hieroor, aangesien dit duidelik is dat hy nie bevoeg is om sy pligte na te kom nie,” sê Pretorius verder.

Die AfriForum-tak in Vryburg moedig inwoners aan om dispuutvorms by die tak te kry en ’n dispuut teen die munisipaliteit te verklaar indien hulle nie rekeninge kry nie of as dié rekeninge foutief is. Inwoners moet egter daarvan bewus wees dat hul betalingsbewyse in orde moet wees. Stuur ’n e-pos aan alta@afriforum.co.za in hierdie verband.
Raak by die Vryburg-tak en -buurtwag betrokke: SMS “Vryburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings