AfriForum mobiliseer duisende teen misdaad


AfriForum se nasionale patrollie het die afgelope naweek duisende mense teen misdaad in Suid-Afrika gemobiliseer. Sowat 135 AfriForum-buurt- en plaaswagte, meer as 125 polisiestasies, talle gemeenskapspolisiëringsforums, sekuriteitsmaatskappye en ander rolspelers het deel van dié massamisdaadvoorkomingsaksie gevorm.

“AfriForum se nasionale voetspoor het ’n onstuitbare netwerk van gemeenskapstrukture geword. Ons nasionale kommunikasiestelsel is enig in sy soort, wat beteken dat duisende gemeenskapslede in die land met mekaar kan kommunikeer om gemeenskapsweerbaarheid te verseker,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens Cameron is nagenoeg 60 ernstige voorvalle deur die AfriForum911-gemeenskapveiligheidsentrum hanteer, wat veral goeie samewerking tussen noodinstansies en gemeenskapstrukture op grondvlak bevestig het.

“Ons wil veral ons dank teenoor die SAPD uitspreek vir die uitmuntende samewerking op grondvlak tydens hierdie gemeenskapsinisiatief. Dit is verblydend om te sien hoe polisiestasies hul deure oopgemaak het vir die gemeenskap om saam die stryd teen misdaad aan te pak,” sê Cameron.
“Die polisie kan nie alleen die geveg teen misdaad wen nie en sowel die gemeenskap as die privaat sektor moet ’n kernrol speel om veiligheid te voorsien,” sê Cameron. Hy meen ook dat die wet oorgenoeg voorsiening maak vir gemeenskappe om binne die raamwerk van die wet te help om misdaad te voorkom.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag of -plaaswag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings