AfriForum mobiliseer meer as 5 000 mense vir nasionale patrollie


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope naweek meer as 5 000 mense regoor die land vir ’n nasionale patrollie gemobiliseer.
Nagenoeg 110 AfriForum-buurtwagte het in 2 292 voertuie ’n totaal van 51 881 km afgelê. Bykans 120 insidente is suksesvol tydens die verskeie patrollies hanteer, insluitend die afwering van ’n moontlike plaasaanval in Delmas.
Verskeie sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike besighede, paramediese dienste en verkeersafdelings het saam met die AfriForum-buurtwagte aan die patrollie deelgeneem.

“Die doel van die nasionale patrollie was om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer en sigbaarheid en samewerking op nasionale en plaaslike vlak te verbeter. Die aantal insidente wat tydens die patrollies hanteer is, dui daarop dat dit ’n suksesvolle strategie is om misdadigers hok te slaan en misdaad te bekamp.  Gemeenskappe moet in samewerking met die SAPD verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.
“Nasionale sigbaarheidsprojekte soos hierdie is nodig om die SAPD te help om misdaad te voorkom en te bekamp. Die gemeenskap het ’n integrale rol om die SAPD by te staan om hul onderskeie gemeenskappe te beveilig,” sluit Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings