|

AfriForum mobiliseer meer as 5000 mense vir nasionale massapatrollie

Nagenoeg 227 veiligheidstrukture van regoor die land het die afgelope naweek aan AfriForum se nasionale massapatrollie deelgeneem.

Die burgerregte-organisasie het meer as 5 000 mense van verskeie sekuriteitsmaatskappye, gemeenskappolisiëringforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike besighede, paramediese dienste en verkeersafdelings gemobiliseer om aan die patrollie deel te neem.

Tydens die patrollie is 51 881 km in 2 292 voertuie afgelê.

Bykans 120 insidente is suksesvol tydens die verskeie patrollies hanteer, insluitend die afwering van ’n moontlike plaasaanval in Delmas. Patrolleerders het ook by verskeie ongelukstonele bystand gebied en dwelms gekonfiskeer.

Volgens Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noord-streek, is die doel van die nasionale patrollie om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer en sigbaarheid en samewerking op nasionale en plaaslike vlak te verbeter.

“Die aantal insidente wat tydens die patrollies hanteer is, dui daarop dat dit ’n suksesvolle strategie is om misdadigers hok te slaan en misdaad te bekamp.  Gemeenskappe moet, in samewerking met die SAPD, verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem,” meen Coetzer

“Nasionale sigbaarheidsprojekte soos hierdie is nodig om die SAPD te help om misdaad te voorkom en bekamp. Die gemeenskap het ’n integrale rol om die SAPD by te staan om hul onderskeie gemeenskappe te beveilig,” meen Johandré van Zyl AfriForum se streeksveiligheidskoördineerder vir die Noord- Oos- en Wes-Kaap af.

Gemeenskappe regoor die land het ook in April hande gevat teen misdaad tydens AfriForum se eerste nasionale massapatrollie van die jaar, beter bekend as Operasie Rooimus.

Dié patrollie het landwyd op 6 April plaasgevind, waartydens 37 670 km deur honderde buurtwag- en gemeenskapslede, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), privaat sekuriteitsmaatskappye en nooddienste afgelê is.

Soortgelyke plasings