|

AfriForum na parlement om kapsie teen onteiening te maak

AfriForum gaan vanoggend skriftelike kommentaar per hand by die parlement indien teen die 18de Wysigingswetsontwerp van die Grondwet (artikel 25-wysiging).

Die wetsontwerp beoog om artikel 25 van die Grondwet, wat oor eiendomsreg handel, te wysig sodat eiendom sonder vergoeding onteien kan word. Die sluitingsdatum vir die indien van kommentaar is 31 Januarie 2020.

AfriForum se hofaansoek om die proses te stuit kom ook later vanjaar voor. Die aansoek spruit uit ongerymdhede met die opstel van die verslag van die parlementêre ad hoc-komitee gemoeid met die wysiging van artikel 25.

Die kommentaar wat AfriForum indien word deur meer as 130 000 lede van die organisasie sowel as lede van die publiek ondersteun.

Terwyl die wetsontwerp voorhou dat grondonteiening versnel moet word om ongeregtighede van die verlede reg te stel, is daar genoeg bewyse dat daar talle mites rondom grondeienaarskap en ander kwessies is.

Meningsopnames deur verskeie instansies het getoon die behoefte na grond is vir die meeste Suid-Afrikaners laag op hul prioriteitslys en dat mense nie grond nie, maar eerder finansiële vergoeding wil hê. Daarbenewens was die ANC-regering se pogings om grond te herverdeel tot op hede ’n klaaglike mislukking wat tot ekonomiese agteruitgang bygedra het.

AfriForum wys in sy kommentaar daarop die wetsontwerp nie werklik gaan oor die regstelling van foute van die verlede nie, maar eerder om die regering mag te gee om grond te gee aan diegene wat aan sy kriteria voldoen. Daar is geen bewys dat die voorgestelde wetsontwerp gelyke toegang tot grond sal verseker en die meerderheid Suid-Afrikaners sal bemagtig nie.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, meen die wetsontwerp is die resultaat van ’n stel ekonomiese idees wat in die verlede in die wêreld op die proef gestel is. “As daar enigiets is wat die geskiedenis ons geleer het, is dit dat ’n gepeuter aan eiendomsreg en oormatige regeringsbeheer nie tot ekonomiese groei lei nie, maar eerder vlakke van ongelykheid vererger.”

AfriForum se kommentaar hanteer verskeie kwessies rakende die wysing van artikel 25, naamlik die staat se huidige magte in terme van die Grondwet om grond sonder vergoeding te onteien; die omvang van die komitee se aanbevelings; waarom dit indruis teen die internasionale reg om toepaslike vergoeding te betaal in gevalle van onteiening; waarom dit mag lei tot Suid-Afrika se uitsluiting van AGOA (die African Growth and Opportunity Act) en waarom dit ’n verbreking van die Grondwet is.

AfriForum moedig die publiek aan om ook dringend kommentaar teen die wetsontwerp in te dien.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre komitee, het gesê daar sal weer openbare verhore gehou word ná die sluitingsdatum vir geskrewe voorleggings. Hy het egter gesê dit sal nie ’n proses vir openbare verteenwoordigers wees nie, maar eerder “om uit te vind wat die wil van die mense is”.

Die 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet om sekere bepalings van artikel 25 te wysig, maak onder meer voorsiening dat ’n hof, waar grond of enige verbeteringe daarop onteien word vir die doel van grondhervorming, mag bepaal dat vergoeding nul is. Nog ’n voorstel is dat nasionale wetgewing onder meer die spesifieke omstandighede mag uiteensit waarin die hof mag beslis dat vergoeding nul is. Opposisiepartye is veral teen laasgenoemde gekant.

Verskeie landbou- en ander organisasies is ook teen die wysiging van die Grondwet gekant wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak. TLU SA het vroeër gesê hy maak hom gereed vir ’n hofstryd om grondeienaars in sake van onteiening sonder vergoeding by te staan. Daar is reeds begin om op internasionale vlak regsmenings in die verband te kry.

Ook Agri SA het gesê hy sal nie skroom om beskikbare regsopsies te gebruik om grondwetlike eiendomsreg van alle Suid-Afrikaners te beskerm nie.

Landbou-organisasies is dit ook eens dat grondhervorming nie volhoubaar of moontlik is indien die staatsdiens nie na behore en doeltreffend funksioneer nie.

Skriftelike kommentaar teen die voorgestelde wetwysigings kan gestuur word na section25@parliament.gov.za

Soortgelyke plasings