|

AfriForum nader DOV ná geen vervolging van bestuurder wat fietsryer vermoedelik doodry

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng (DOV) in ’n skrywe versoek om ’n aanklaer vanuit sy kantoor aan te stel om die vervolging te behartig van die persoon wat daarvan verdink word dat hy op 28 Februarie 2018 vir Nino Oppel doodgemaak het. Oppel was ’n deelnemer in die bekende Berge en Dale fietswedren in Muldersdrif, Gauteng toe die verdagte hom klaarblyklik met sy voertuig getref en weggejaag het.

Die privaatvervolgingseenheid staan tans die Oppel-familie by en het in 2020 omvattende vertoë aan die DOV geskryf nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik aangedui het dat hulle nie vervolging gaan instel nie. Die DOV het in Augustus 2020 aangedui dat daar wel ’n prima facie-saak teen die man is en dat hy vervolg moet word. Desondanks, het aanklaers in Krugersdorp tot op hede steeds geen vervolging ingestel nie. 

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit skokkend dat dit blyk dat die aanklaers in Krugersdorp bloot versuim om ’n opdrag van die DOV na te kom deur nie die verdagte te vervolg nie.

“Boonop is die verdagte in 2018, dae nadat hy in hegtenis geneem is, op die bevel van die senior aanklaer in Krugersdorp, vrygelaat. Die aanklaers in Krugersdorp se volgehoue versuim om die verdagte te vervolg, blyk na ons mening niks anders as blote onbevoegdheid te wees nie. Dit het ons genoop om weereens die DOV te nader ten einde te verseker dat geregtigheid geskied en die verdagte uiteindelik vervolg word.

Volgens Leask dien hierdie weereens as stawing vir die siening dat die NVG onwillig is om sake wat ingewikkeld kan wees aan te kla. “Dit is verbysterend dat die aanklaers na redes soek om nié te vervolg nie, veral nadat die DOV reeds beslis het dat vervolging ingestel moet word. Dit is nou vier jaar sedert die  tragiese dood van die oorledene en die familie wag steeds op geregtigheid.”

Soortgelyke plasings