AfriForum nader dringende hof oor onwettige elektrisiteitverhoging


Die burgerregteorganisasie AfriForum het op Donderdag 4 Julie hofstukke op die Tshwane-metro en Nersa beteken nadat dié munisipaliteit onwettige elektrisiteitverhogings het sonder Nersa se goedkeuring geïmplementeer.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, hou die Tshwane-metro vol dat hulle die uitvoerende gesag is en daarom die verhoogde tarief sonder die nodige goedkeuring mag implementeer. “Kragtens die wet is die Tshwane-metro nie by magte om die tarief te implementeer nie en ons sal teen dié onbillikheid optree. Aangesien Nersa of die Tshwane-metro nie op enige van AfriForum se skrywes geantwoord het nie, het ons geen ander remedie as om die dringende hof te nader nie,” sê Grobbelaar.
Kragtens artikel 14 van die Elektrisiteitsreguleringswet (wet no. 4 van 2006) mag die munisipaliteit nie sonder Nersa se goedkeuring ’n verhoogde elektrisiteitstarief implementeer nie.
Grobbelaar sê ook dat talle inwoners reeds by AfriForum kom om hulp aanklop het omdat hulle ’n basiese tarief van R56 moes betaal en ook heelwat minder eenhede as die vorige maand gekry het. Inwoners het ook hul kommer oor dié verhoging – wat boonop tot groot verwarring gelei het – op sosiale media uitgespreek.
“Dit is heeltemal onbillik dat die Tshwane-metro die verhoging geïmplementeer het sonder die goedkeuring van Nersa of sonder om die publiek in kennis te stel. AfriForum sal die saak beveg om te verseker dat geregtigheid geskied.”
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Pretoria om die petisie te teken en AfriForum in die saak by te staan. Klik hier om die petisie te onderteken.

Soortgelyke plasings