|

AfriForum nader premier opnuut oor Lesufi se afdanking

AfriForum stuur vandag ’n tweede brief aan David Makhura, Gautengse premier, waarin die burgerregteorganisasie opnuut hul misnoeë uitspreek oor die voortdurende chaos wat by talle skole in Gauteng heers weens ongeplaaste of verkeerdelik-geplaaste leerders.

Talle skole moes reeds op 20 Januarie 2020 hul deure sluit uit vrees weens dae lange protesoptogte deur ongelukkige en gefrustreerde ouers. Dít terwyl Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, voorgee dat sy provinsie se skole geen probleme ervaar nie.

AfriForum word herhaaldelik deur moedelose ouers gekontak omdat hulle geen steun van die Gautengse onderwysdepartement ontvang nie.

“Ons is reeds in die tweede week van die eerste skoolkwartaal en daar is steeds ongelukkigheid by ouers en skole wat direk deur die aanlynregistrasiestelsel en -plasings veroorsaak is. Skole kan nie hul deure sluit uit vrees vir ouers se optrede as gevolg van chaos wat deur die Gautengse onderwysdepartement veroorsaak is nie. Lesufi en sy departement moet verantwoordelikheid neem vir hierdie wanorde en ongemak,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

“Ons sal ook aanhou om briewe aan die premier te skryf om dié probleme wat Lesufi veroorsaak het, uit te wys. Iewers gaan hy gehoor moet gee en optree,” voeg Bloem by.

AfriForum se omvattende veldtog teen Lesufi se vergrype duur voort en sluit ’n petisie in waar ouers die organisasie se eis vir sy afdanking deur middel van die webtuiste (www.afriforum.co.za/Lesufimoetval), ’n SMS na 32782 (R1), of AfriForum se Facebook-blad kan steun.

Bloem moedig die publiek aan om AfriForum se veldtog te steun. “Ons kan nie langer toelaat dat hierdie plasingskrisisse en ander wangedrag jaarliks ten koste van die jeug herhaal word nie. Gauteng se skole, ouers en kinders verdien beter.”

Soortgelyke plasings