|

AfriForum nader regspan oor krag- en waterkrisis in Parys

AfriForum het vandag met hulle regspan gekonsulteer oor die krag- en waterkrisis in Parys. Die krisis spruit voort uit Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se nienakoming van hul afbetalingsooreenkoms met Eskom om hul skuld van R1,54 miljard te delg. Dit het tot gevolg gehad dat Eskom weer rotasiebeurtkrag ingestel het. Op Vrydag 1 Julie, ná beurtkrag, het die krag as gevolg van oorlading uitgeskop en Eskom het geweier om die krag aan te skakel uit vrees dat dit hul toerusting kan benadeel.

Die munisipaliteit moes ongeveer R1,1 miljoen betaal om kragtoevoer te herstel, hierdie betaling is eers Maandag 4 Julie gemaak. Die krag het van 20:00 af begin aankom nadat Eskom herstelwerk moes doen. Op hierdie stadium verskaf Eskom net genoeg ampère sodat die swak munisipale netwerk dit kan hanteer. Dit het tot gevolg dat die gemeenskap steeds vir lang tye sonder krag is en dat sommige inwoners nog nie weer krag gehad het nie.Die gebrek aan elektrisiteit het ook tot gevolg dat daar min tot geen water aan die groter Parys gelewer kan word nie.

AfriForum het reeds einde 2021 ’n ooreenkoms met Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gesluit waar die organisasie aan die munisipaliteit aanbevelings gemaak het oor wat om te doen om die waterwerke en die rioolwerke in ’n goeie werkende toestand te kry. Ongelukkig het die munisipaliteit nie ’n enkele aanbeveling uitgevoer nie

.“Hierdie is ’n aanduiding dat die munisipaliteit eenvoudig nie bereid is om behoorlike dienste aan die gemeenskap te lewer nie. As ’n burgerregteorganisasie kan ons nie sit en toekyk hoe gemeenskappe so benadeel word nie, daarom het ons met ons regspan gekonsulteer oor die beste plan van aksie in hierdie situasie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die plaaslike AfriForum-tak het reeds hierdie week 17 000 liter water in die gemeenskap versprei. Hier is dringende en ingrypende optrede nodig om hierdie probleem op te los,” sluit Pretorius af.Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Parys” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings