|

AfriForum-navorser op pad na VSA om oor plaasmoorde te praat

’n Misdaadanalis en navorser by die burgerregte-organisasie vertrek Vrydag na die VSA waar sy by die jaarlikse opleidingskonferensie van die Internasionale Vereniging van Misdaadanaliste (IACA) ’n voorlegging sal doen.

Lorraine Claasen van AfriForum se Navorsingsinstituut (ANI) gaan ’n referaat in New Orleans oor die voorkoms van plaasmoorde en –aanvalle in Suid-Afrika lewer.

Sedert 1990 was daar 1 860 plaasmoorde en 4 116 aanvalle.

Claasen gaan ’n oorsig van die krisis gee en wys op die uitdagings waarmee die SAPD en ander rolspelers te kampe het om doeltreffende misdaadanalise te doen ten einde die voorkoms van dié misdaad pro-aktief aan te pak.

Sy sal ook na die regering se hantering van plaasmoorde verwys wat hul nog nooit oor die erns van dié misdade uitgespreek het nie. Daar was wel vanjaar vir die eerste keer ’n debat daaroor in die parlement. Plaasmoorde en –aanvalle in Suid-Afrika gaan dikwels met ekstreme vlakke van brutaliteit en marteling gepaard.

Claasen gaan ook by ander internasionale misdaadanaliste kers opsteek oor ander moontlike vorme van misdaadanalise wat in Suid-Afrika oorweeg kan word om ’n einde aan geweld te bring.

 

Soortgelyke plasings