AfriForum neem aksie teen onwettige onderskepping van kommunikasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om moontlike regsaksie teen polisiebeamptes te ondersoek wat hulle posisies misbruik vir politieke doeleindes.

Dit volg ná Bess Nkabinde, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof wat aangestel is om ondersoek in te stel na die onderskep van kommunikasie, haar intelligensieverslag verlede week aan die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie voorgelê het. Volgens Nkabinde is dit ’n skokkende werklikheid dat ondersoekers oneerlik is oor die redes vir hulle aansoeke om mense se kommunikasie te onderskep.

Een so voorbeeld is toe joernaliste se persoonlike kommunikasie onderskep is ná polisielede inligting gefabriseer het om toestemming by ’n regter te kry om die kommunikasie te onderskep. Die polisielede het beweer dat hul die joernaliste se kommunikasie wil bekom omdat hulle glo outomatiese tellermasjiene opgeblaas het.

Volgens Nkabinde is dit bykans onmoontlik om vas te stel of die redes wat aangevoer word vir dié soort aansoeke legitiem is en of dit gefabriseer is.

Nóg ’n probleem is dat dit bykans onmoontlik is om boek te hou van die groot aantal aansoeke vir kommunikasie-onderskepping, omdat daar glo ’n oortollige aantal saaknommers aan die versoeke gekoppel word.

“Dit is teen hierdie tyd algemeen bekend dat die Zuma-administrasie die land se intelligensiestrukture uitgebuit het om politieke faksiegevegte te veg. Dit is uiters kommerwekkend om te hoor dat die strukture stééds uitgebuit word en dat daar só baie gevalle is van polisielede wat inligting onderskep onder valse voorwendsels,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van veldtogte.

Soortgelyke plasings