AfriForum neem regsaksie om lisensie grasietydperk te verleng

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan regstappe implementeer teen Minister Fikile Mbalula se aankondiging op 7 Maart dat die Departement van Vervoer nie die grasietydperk vir bestuurderslisensies wat verval het, ná 31 Maart 2022 gaan verleng nie. Dit ondanks die feit dat die regering steeds nie in staat is om behoorlike dienslewering te bied nie en dat talle lede van die publiek etlike maande gelede hul lisensie-aansoeke ingedien het.

AfriForum het sy regspan vandag opdrag gegee om ’n prokureursbrief aan die Departement van Vervoer voor te berei waarin die organisasie eis dat die grasietydperk vir die hernuwing van bestuurderslisensies vir ’n redelike tydperk ná 31 Maart 2022 verleng word. AfriForum oorweeg verder die moontlikheid om ’n hofsaak aan te pak indien die grasietydperk nie verleng word nie en ’n lid van die publiek gestraf word omdat hulle sonder ’n geldige bestuurderslisensie bestuur as gevolg van die regering se onvermoë om hierdie diens te verskaf. Hierdie aksie mag dalk ’n regspresedent skep wat bevestig dat die publiek onwettiglik gestraf word  vir die departement se eie mislukte dienslewering.

“Indien AfriForum daarin slaag om ’n verdere verlenging van die grasietydperk te kry, sal dit die publiek ’n nodige blaaskans gun om die hernuwing van hulle lisensies te finaliseer. Dit sal net regverdig wees aangesien die huidige agterstand van lisensie-aansoeke in die eerste plek te wyte is aan die departement se eie sistemiese en diepgewortelde mislukkings,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

AfriForum is al vir ’n geruime tyd aan die voorpunt van die geveg teen die Departement van Vervoer se verskriklike dienslewering. In hierdie opsig het AfriForum in September 2021 ’n formele klag van korrupsie en wanbestuur by die kantoor van die openbare beskermer ingedien. Die openbare beskermer het bevestig dat die klag ondersoek word. Aan die begin van 2022 het AfriForum ook verdoemende beeldmateriaal opgeneem wat die wanfunksionering van die aanlyn NaTIS-stelsel en die korrupsie by die Waltloo-lisensiekantoor ontbloot. Hierdie beeldmateriaal is ook aan die openbare beskermer gestuur as addisionele bewyse vir die bewerings wat in die klagte uiteengesit is.

“Lede van die publiek is eerlikwaar keelvol vir die departement se flou verskonings vir sy skokkende diensleweringstandaarde. Dit is waarom AfriForum namens sy lede en die breër publiek optree deur voort te gaan om druk op die Departement van Vervoer uit te oefen om sy verantwoordelikheid om behoorlike dienslewering te bied, na te kom,” sluit Duvenage af.

Soortgelyke plasings