AfriForum neem sy #AnkerdorpPadskou na George


AfriForum het sy #AnkerdorpPadskou op 2 Mei 2019 in George afgeskop met die amptelike bekendstelling van die burgerregte-organisasie se landwye blou-en-groendruppelprojek. Die George-tak was die eerste van AfriForum se aktiewe takke om die gehalte van hul dorp se drink- en rioolwater te toets.

Verskeie ander aksies is ook in George aangepak om AfriForum se teenwoordigheid in die dorp op te skerp en saam met die gemeenskap hoop te skep. Die ontspanningsvertrek van die Rosemoor-ouetehuis is opgeknap, twee ondernemings is met pizza en koeldrank verras en lede van AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan het veiligheidsoudits by skole in die dorp gedoen. ’n Skoonmaakaksie is ook die afgelope naweek in die omgewing rondom die Camfersdriftrivier gehou, asook in Jan van Riebeeck-, Davidson- en Merrimanstraat langs die treinspoor.
AfriForum se #AnkerdorpPadskou bou op die besef (gestaaf deur Solidariteit  se navorsing) dat Afrikaners na 30 dorpe in Suid-Afrika migreer, waar basiese dienslewering en behoeftes – soos gesondheidsdienste, veiligheid, versorging van bejaardes, skoon water en instandhouding van sanitasie – binne bereik is. AfriForum het dus besluit om dié gemeenskappe te wys hoe ons as Beweging, maar ook as burgerregtewaghond, die beginsel van selfdoen aanmoedig en self moue oprol om ons dorpe op te hef.

“Die res van die maand gaan ons nog verskeie aksies van stapel stuur, wat kontaksessies met sowel rolspelers in die veiligheidsomgewing as omgewingsaktiviste insluit. AfriForum se teenboelieveldtogspan gaan ook op 27 Mei 2019 besoek by die Laerskool Vorentoe, die Laerskool Blanco en die Laerskool George-Suid aflê. Verder gaan ons nóg gebiede vir beveiliging ontbos en ’n gemeenskapsvergadering met prominente sprekers hou,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om by die #AnkerdorpPadskou betrokke te raak. Vir meer inligting, besoek gerus dié inisiatief se webtuiste by www.ankerdorp.co.za.

Soortgelyke plasings