AfriForum in Nelspruit en Witrivier patrolleer strate saam met NCC


AfriForum se Cairn Burnside-plaaswag buite Nelspruit in Mpumalanga het op Vrydag 18 Mei 2018 ’n gesamentlike patrollie met die Witrivier-buurtwag en Nelspruit Concerned Citizens (NCC) in Nelspruit gehou.
Die doelwit van dié patrollies is om sigbaarheid te verhoog. Dit dien ook as ’n geleentheid waar verskeie strukture en organisasies saam in die stryd teen misdaad werk.
Die aand is afgeskop met ’n induksiesessie, gelei deur John Meintjies van NCC. Die induksie het agtergrond vir die patrollie verskaf asook die regte wat patrolleerders het en die prosesse wat gevolg moet word om binne die wet op te tree.
’n Persoon wat onder die invloed van alkohol bestuur het, is tydens die patrollie gearresteer. AfriForum se Cairn Burnside-plaaswag het ook tydens die geleentheid koeëlvastebaadjies, glimbaadjies en voertuigmagnete in ontvangs geneem.

“Ons is dankbaar dat ons nie die stryd teen misdaad alleen moet aanpak nie en dat ons hande kan vat om ons gemeenskappe te beveilig,” sê Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Cairn Burnside-plaaswag.

Raak betrokke: SMS “Nelspruit” of “Witrivier” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings