|

AfriForum Netwerk se gids is 1 000 besighede sterk

Die AfriVriendelik-inisiatief, AfriForum Netwerk, wat ten doel het om Afrikaans in die sakewêreld te bevorder, is goed op dreef met 1 000 geregistreerde ondernemings op sy databasis.

AfriForum Netwerk (voorheen bekend as Afrikaans-Vriendelik) is ’n aanlyn databasis van ondernemings wat in Afrikaans dienste lewer en dit word deurlopend uitgebou. Dié ondernemings strek van klein koeksisterbakkerye en organiese velsorgreekse tot gevestigde regsfirmas.

Die databasis is maar een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik. Ander inisiatiewe sluit onder meer ʼn aanlynkletskamer vir AfriForum-lede en entrepreneurs, bemarkingsopleiding, die jaarlikse Tinteltong Toekennings asook ʼn entrepreneurskompetisie in.

Volgens Sanderien van der Walt, koördineerder van AfriVriendelik, is dié webwerf die ideale bemarkingsplatform vir enige onderneming omdat dit soos ʼn gemeenskap funksioneer.

“Enige lid van die publiek wat na Afrikaanse produkte of dienste op soek is, het toegang tot die databasis. Hulle kan ook ondernemings wat Afrikaans bevorder nomineer vir die kompetisie, ongeag die grootte van die onderneming.

“Ons is baie opgewonde om hierdie mylpaal te bereik en ons moedig ander entrepreneurs en besighede aan om ook aan te sluit by AfriForum Netwerk. Ons glo dat hierdie platform hoop skep deur saam te staan, maar ook ander besighede aanmoedig om in Afrikaans diens te lewer.”

Rina Lombard, eienaar van Is Moz Bos en voormalige Tinteltong-wenner, sê sy het besluit om haar onderneming, ’n unieke velsorgreeks vir bosliefhebbers, op die AfriForum Netwerk te lys omdat dit só vinnig, maklik en boonop gratis was.

“AfriVriendelik en die Tinteltong Toekennings het ’n groot verskil in my lewe gemaak. Die platform gee my onderneming ’n lekker hupstoot en ek gebruik my toekenning by al my uitstallings. AfriVriendelik beteken baie vir ons klein ondernemings.”

Sy sê dit is moeilik om ’n gunsteling AfriVriendelik-inisiatief uit te sonder omdat sy by elkeen baat. “Ek kan nie een uitsonder nie, want al hulle inisiatiewe het ’n positiewe invloed op my onderneming. By elke AfriVriendelik-geleentheid leer ek elke keer iets nuuts en ek ontmoet nuwe mense en word aan nuwe besighede blootgestel wat soos ek ook besigheid in Afrikaans doen.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het destyds by die bekendstelling van dié unieke webplatform gesê dat die burgerregte-organisasie deur AfriVriendelik Afrikaans op ʼn positiewe en proaktiewe manier in die sakewêreld wil bevorder.

“Afrikaans is meer as net ons taal, dit is deel van ons identiteit. Dié platform is dus nie net tot voordeel van verbruikers en ondernemings regoor Suid-Afrika nie, maar tot voordeel van Afrikaans.”

Soortgelyke plasings