AfriForum: Nóg R109 000 pas van EFF en Malema ontvang


Julius Malema en die EFF het pas ’n verdere bedrag van R109 098,30 aan AfriForum betaal om beslaglegging op hul bates te verhoed.

Malema en die EFF se betaling volg ’n week nadat AfriForum se regspan hulle daarvoor op terme geplaas het. Dit beteken dat Malema en die EFF tot op hede ’n beraamde bedrag van R344 000 aan AfriForum betaal het. Dié bedrag beslaan drie van die vyf kostebevele wat AfriForum sedert Maart 2017 in die howe teen die EFF bekom het.
Dié jongste betaling aan AfriForum hou verband met die kostebevel wat AfriForum op 14 November 2018 teen die EFF en Malema bekom het nadat die EFF en Malema se poging om ’n dringende hofbevel te bekom (om te verhoed dat AfriForum die EFF se eiendom verwyder en op ’n veiling verkoop) misluk het. Dié regsrekening is reeds getakseer en daarom kon AfriForum die betaling daarvan afdwing.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan Malema en die EFF se betalings aan die burgerregte-organisasie aanwend om pogings om die land se Grondwet te wysig, om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, in die howe te beveg.

“AfriForum verwelkom die betalings en ons gaan Malema en die EFF nou met hul eie geld beveg,” sê Kriel.

Na raming sal die gesamentlike bedrag van al vyf kostebevele sowat R550 000 beloop. Die afdwinging vir die laaste twee uitstaande kostebevele word deur AfriForum teruggehou omdat die een nog getakseer moet word en die EFF appèl teen die ander aangeteken het. Om meer oor hierdie kostebevele en die ander betalings te lees, volg hierdie skakels:

Soortgelyke plasings