|

AfriForum-noodfonds ook vir Knysna-ramp aangewend

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan sy noodfonds uitbrei ná die verwoestende veldbrande en storms in die Suid-Kaap wat minstens 10 000 inwoners van Knysna en ander woongebiede dakloos gelaat het.

AfriForum en die diensorganisasie Solidariteit Helpende Hand het pas aangekondig dat hulle bystand aan dié gebiede in die Wes-Kaap gaan gelewer wat deur die brande geteister word. Bydraes nou sal spesifiek hiervoor aangewend word.

“Ons wil mense aanmoedig om tot die fonds by te dra, want ons glo dat só ’n fonds meer mense bemagtig om ’n bydrae te lewer,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum het begin om in samewerking met provinsiale rampbestuurspanne addisionele punte te identifiseer waarheen hulpgoedere gestuur kan word. Die spesifieke items wat mense kan skenk, sal deur middel van sosiale media bekend gemaak word sodra ’n deeglike behoefte bepaling gedoen is.

AfriForum se noodfonds is vroeër vanjaar gebruik om meer as 200 bale geskenkte voer by boere in die Vrystaat af te lewer wat onder hewige droogtes gebuk gegaan het.

Die fonds is ook ingespan om water, wat regoor die land ingesamel is, by gemeenskappe in Calvinia uit te kry. Tydens fase een van dié projek is sowat 400 000 liter water, 300 bale voer en 100 sakke aartappels afgelewer.

Die fonds sal ook in die toekoms vir ander hulpverleningsprojekte aangewend word. Om nou vir Knysna by te dra, kan inbetalings gemaak word by:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 62349898398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 261550

Verwysing: KNYSNA

Die publiek kan ook op die langtermyn tot die noodfonds bydra. SMS jou naam na 45344 (R1). AfriForum sal jou kontak met verdere inligting.

Soortgelyke plasings