AfriForum: Ntsebeza se krieketverslag is eensydig en ignoreer rassistiese kwotastelsel

Die burgerregteorganisasie AfriForum het adv. Dumisa Ntsebeza se verslag oor transformasie in Suid-Afrikaanse krieket as eensydig afgemaak omdat dié verslag slegs wit spelers as die skuldige partye voorhou, terwyl die verslag swyg oor die blatante institusionele diskriminasie en rassisme wat in die naam van Krieket Suid-Afrika (KSA) se rasgedrewe kwotastelsel gepleeg word. AfriForum se kritiek volg nadat die Ntsebeza-verslag op 15 Desember aan die publiek bekend gestel is. 

AfriForum het vroeër vanjaar ’n mondelinge voorlegging aan Ntsebeza se Social Justice and Nation Building- (SJN-)komitee gemaak, waartydens dié organisasie hom sterk uitgespreek het teen enige vorm van diskriminasie en rassisme. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens dié voorlegging gesê dat pogings om rassisme in krieket uit te roei ook moet fokus op die rassistiese kwotastelsel, wat sommige professionele spelers op grond van ras van hulle loopbane ontneem en selfs teen kinders op skoolvlak diskrimineer. “Hierdie stelsel vernietig jong kinders se drome en tas hul menswaardigheid weens hul ras aan,” het Kriel destyds gesê.

Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum, het in sy reaksie gekap na die verslag se gevolgtrekkings dat AB de Villiers teen ’n medespeler gediskrimineer het bloot omdat hy die meriete van ’n spankeuse in twyfel getrek het. “Dit is lasterlik en ’n skending van De Villiers se regte dat Ntsebeza – terwyl hy self erken dat hy weens die aard van sy ondersoek nie ‘definitiewe bevindinge’ kon maak nie – voortgaan om ’n krieketlegende soos De Villiers onder verdenking te plaas. Dit is tragies dat ’n persoon soos De Villiers, wat krieket in die land met groot toewyding gedien het, nou die slagoffer word om ’n rasbehepte politieke agenda in KSA te bevorder,” voeg Peters by.

AfriForum het tydens sy voorlegging aan die SJN-komitee ook ’n sespuntplan vir sportontwikkeling in Suid-Afrika as alternatief tot die kwotastelsel voorgehou. Hierdie plan fokus baie spesifiek op die bemagtiging van gemeenskappe deur sport as voertuig en gee praktiese voorstelle oor hoe sport in Suid-Afrika inklusief bevorder kan word. Daar is geen melding van AfriForum se voorlegging in Ntsebeza se verslag gemaak nie.

Soortgelyke plasings