AfriForum oefen druk uit op munisipaliteite oor Vaalrivier-besoedeling


AfriForum verwelkom die fondse wat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) aan die bankrot Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit bewillig het. R20 miljoen is aan herstelwerk en opgradering van pompstasies in die Vaalrivier toegewys.

Oor die afgelope maande het AfriForum saam met ander vennote wat hul met omgewingsbewaring bemoei druk op munisipaliteite geplaas wat aan die Vaalrivier grens en dus aanspreeklik gehou kan word vir die besoedeling van dié rivier, wat aan die versuim van hul munisipale pligte toegeskryf kan word.
Volgens AfriForum stort die regering daagliks minstens 1 500 megaliter riool (gedeeltelik behandel of onbehandeld) in die Vaalrivier. Besoedeling van die Vaalrivier is ’n reuseprobleem in die Vaaldriehoek, aangesien die rioolstorting daarin al vir maande plaasvind en dit reeds rampspoedige gevolge toon.
Om die rivier te help rehabiliteer, het AfriForum-takke die aanliggende gemeenskappe in 15 dorpe en een stad gemobiliseer om die invloed van hierdie besoedeling op fauna en flora in en langs die rivier te beperk. AfriForum se veldtog om die Vaalrivier te red, maak van aktivisme, strafregtelike klagtes en rehabilitasiemetodes gebruik om munisipaliteite sodoende tot aksie te roep.

“Ons is daarvan oortuig dat die DWS die onlangse noodfondse aan die Emfuleni Munisipaliteit toegewys het om infrastruktuur by die rioolwerke op te gradeer, juis as gevolg van ons en ander se volgehoue klem op swak bestuur en die gevolglike besoedeling van die Vaalrivier. AfriForum het verteenwoordigers beskikbaar gestel om ook aan die Menseregtekommissie se prosesse deel te neem,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek.

AfriForum het reeds vrywilligers geïdentifiseer wat die herstel en opgradering van rioolpompstasies sal waarneem en verslag aan AfriForum en ander betrokke omgewingsbewaringsorganisasies sal doen.

Soortgelyke plasings