|

AfriForum ondersoek moontlike ANC-misbruik van lugmagbates

AfriForum het vandag ’n ondersoek geloods na die beweerde misbruik van lugmagbates deur sekere hooggeplaaste lede van die ANC. Dié burgerregteorganisasie het ook aangedui dat hy regstappe sal te doen as dit aan die lig sou kom dat staatsbates onregmatig deur die ANC gebruik is.

Dit volg op berigte dat onder andere Ace Magashule (sekretaris-generaal van die ANC), Gwede Mantashe (voorsitter van die ANC), Lindiwe Zulu (Minister van Maatskaplike Ontwikkeling) en Nosivwe Mapisa-Ngakula (Minister van Verdediging en Militêre Veterane), asook vyf lede van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee ’n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag gebruik het om na Harare te vlieg om samesprekings met Zanu PF te voer.

AfriForum se regsverteenwoordigers het ook aan dr. Naledi Pandor, Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerkende Regering, asook Mapisa-Ngakula (wat dié besoek ook meegemaak het) geskryf vir ’n  verduideliking of die lugmagvliegtuig regmatig gebruik is. Die burgerregteorganisasie het ook ’n klag by die Openbare Beskermer ingedien.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, bepaal artikel 80(3) van die Verdedigingswet 42 van 2002 dat bates wat aan die Weermag behoort slegs in uitsonderlike gevalle gebruik mag word vir ander doeleindes as die beskerming van die land. Dié gevalle moet aan sekere voorwaardes voldoen. “Eerstens moet die gebruik van die bates in openbare belang wees. Tweedens moet die Minister van Verdediging die gebruik van hierdie bates goedkeur in oorleg met die Minister van Finansies.”

AfriForum wil met dié ondersoek vasstel of die regte kanale gevolg is en die gebruik van staatsbates wel gemagtig was. “Ons kan nie toelaat dat lede van die regerende elite die land se bates misbruik asof hulle dit self besit nie. Ons sal hierdie saak verder voer as dit blyk dat politici die wet oortree het,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings