AfriForum: Ondersoek na privaat gesondheidsorgbedryf geldmors en dekmantel vir staatsinmenging

Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat die markondersoek na privaat gesondheidsorg ’n aandagafleier van die massiewe probleme in openbare gesondheidsorg is.

Dr. Eugene Brink, gesondheidswoordvoerder by AfriForum, sê die ondersoek maak onnodig sondebokke van die privaat sektor terwyl openbare hospitale uitmekaar val. “Dit is ’n duur heksejag. Die ondersoek het al meer as R200 miljoen gekos en dien as skuifmeul om die privaat sektor te boelie om dienste teen ’n appel en ’n ei aan die staat te lewer onder nasionale gesondheidsversekering (NGV).

“Gesondheidsorg is een van die mees gereguleerde sektore in die ekonomie. Die privaat sektor se aandeel aan gesondheidsorg in die land het weens hierdie feit oor die laaste 20 jaar heelwat gedaal vergeleke met die openbare sektor.”

Volgens Brink is die ondersoek bloot ’n manier om die staat groter mag te gee wanneer groter sake-ondernemings retireer, en nie om kleiner sake-ondernemings te help nie. “My eie navorsing toon dat nóg die groter hospitaalgroepe nóg kleiner hospitale toegelaat word om die groeiende vraag na privaat mediese dienste te vervul.

“Landwyd groei sekere dorpe en stede sonder dat die staat die privaat sektor toelaat om te groei en dienste aan die mense te lewer. Vervolgens moet mense ver ry na ander plekke of vervallende staatsdienste gebruik. Die groter maatskappye het hospitale en klinieke opgerig waar niemand anders wou nie en nou word hulle verguis daarvoor. As iemand nie ’n ekonomie van skaal kon skep nie, sou baie plekke steeds sonder gehalte mediese dienste sit.

“Privaat mediese dienste en mediese fondse is iets wat vrywillig gebruik word en dit word op niemand afgedwing nie. Hulle sou nooit bestaan as die staat nie in die eerste plek in sy plig om gesondheidsdienste te verskaf, misluk het nie. Daar is ook groot rolspelers in ander sektore van die ekonomie wat die leeue-aandeel daarvan oorheers. Waarom net die gesondheidsorgsektor uitsonder?”

Brink bevraagteken ook die tydsberekening en volledigheid van die finale verslag. “Dit het vyf jaar en baie geld geverg om hierdie verslag op te stel en nou word dit skielik uitgereik omdat die regering die vernietigende NGV wil instel. Waar is die bevindinge oor die haglike toestand van openbare gesondheidsdienste wat deur die meeste van die land se mense gebruik word?”

Soortgelyke plasings