|

AfriForum ondersoek R73 miljoen se uitbetalings aan stamhoofde in Limpopo

Die burgerregte-organisasie gaan ’n PAIA-aansoek indien teen die departement van koöperatiewe regerings, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), om toegang tot inligting te verkry rakende ʼn uitbetaling van R73 miljoen aan sowat 208 tradisionele leiers in Limpopo.

Luidens dokumente wat in AfriForum se besit is, eis tradisionele leiers van die provinsie salarisse van dié departement sedert 2010.

Die dokumente dui ook aan dat Coghsta deur die staatsprokureur in Limpopo geadviseer is om wel die individuele salarisse van sowat R350 000 elk aan die leiers toe te staan, ondanks ’n Noord-Gautengse hooggeregshofbevel in Oktober verlede jaar wat gelas het dat salarisse van tradisionele leiers nié Coghsta se verantwoordelikheid is nie.

Die Wet op die Vergoeding van Openbare Ampsdraers bepaal dat alle salarisse en toelae aan tradisionele leiers en stamhoofde gereguleer moet word. Salarisse van tradisionele leiers moet deur die Provinsiale Wetgewer betaal word.

AfriForum het verneem dat die kantoor van die staatsprokureur gewaarsku is oor beweerde onetiese en voornemende kriminele gedrag met die advies wat aan Coghsta gegee is om die uitbetaling te maak.

Dit is onduidelik wat die motief vir die staatsprokureur se optrede en advies is en volgens ingeligtes kan korrupsie nie uitgesluit word nie.

“Dit is kommerwekkend dat die staatsprokureur, wat veronderstel is om die land se wette te onderhou, dit moontlik oortree het,” het Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder by AfriForum, oor die uitbetaling gesê.

Sy het gesê die burgerregte-organisasie kyk na stappe om Coghsta te dwing om die inligting oor die betaling bekend te maak.

“Ons is vasbeslote om die kollig op hierdie moontlike saak van korrupsie te plaas. Dit is net nog ʼn voorbeeld van die wyses waarop belastingbetalers se geld wanbestee word.”

Mothupa Selomo, woordvoerder vir Coghsta, het nie op Forum Nuus se e-pos-navrae gereageer nie.

Soortgelyke plasings