AfriForum ondersteun familie en plaaswerkers ná Bonnievale-plaasaanval


AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid het vroeër dié week die plaas Kapteinsdrif buite Bonnievale besoek waar die boer Tool Wessels op 14 Mei 2019 vermoor en sy vrou Lizel gemartel is. Die eenheid het emosionele bystand en ondersteuning aan die nagenoeg 15 plaaswerkers verleen en ook ’n groepontlonting van stapel gestuur.

Die werkers, veral die persoon wat eerste op Wessels se liggaam afgekom het, asook die Wessels-gesin se huishulp, is erg getraumatiseer deur die gebeure.
Die Traumaeenheid gaan ook die familie in die hospitaal besoek om emosionele bystand te verleen en sal ondersoek doen om te bepaal of daar ’n behoefte aan verdere ondersteuning bestaan – hetsy by die gemeenskap of die geaffekteerde familie.

“Dit is baie tragies wat hier gebeur het. Die feit dat die werkers baie erg getraumatiseerd is ná die koelbloedige moord op Wessels en die makabere manier waarop sy vrou Lizel gemartel is, gaan beslis ’n letsel op dié mense laat. Dit is egter nie die enigste hartseer waarmee hulle worstel nie. Die moontlikheid dat hulle dalk nie verder enige inkomste kan verdien nie aangesien hulle werkgewer oorlede is, plaas verdere druk op hulle. Die realiteit is dat elke boer wat vermoor word, basies ’n besigheid is wat sy deure moet sluit,” sê Johan Kloppers, trauma-ondersteuningsbeampte by AfriForum.

Soortgelyke plasings