|

AfriForum ondersteun Hoërskool Tygerberg se tienertoneelgroep tydens Aardklop

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vanjaar as ʼn borg opgetree vir die Hoërskool Tygerberg se toneelgroep wat deurgedring het na die finale rondte van die ATKV se jaarlikse tienertoneel-kompetisie by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom.

Tydens dié landwye toneelkompetisie, wat ten doel het om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel by hoërskoolleerlinge te kweek, word skole wat deurdring na die top tien genooi om aan die finale rondte op die Aardklop-verhoog deel te neem.

Hoërskool Tygerberg spog vanjaar met twee toneelstukke in dié finale rondte, naamlik Die Staat teen Sara en Inkleur.

Toneelspelkenners sal tydens die skole se optredes alle aspekte van dié produksies, insluitend regie, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie, beoordeel.

Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het die burgerregte-organisasie besluit om dié skool te ondersteun omdat hul bewus is van die groot finansiële uitdaging wat só geleentheid kan bied.

“Die leerlinge spog met ʼn uitmuntende prestasie en ons wil graag vir hulle die geleentheid gee om deel te neem en blootgestel te word aan dié kompetisie. Ons hoop dat ons bydra die proses vir hul sal vergemaklik sodat hul hierdie unieke ervaring wat Aardklop bied ten volle kan geniet.”

Die wenners van die AKTV tienerstoneel-kompetisie word Saterdag 8 Oktober aangekondig.

Soortgelyke plasings