|

AfriForum ondersteun SA atletiek by bekendstelling van nuwe vereniging

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum het vandag die bekendstelling van die Forum vir Atlete Suid-Afrika (FASA), ’n unieke vereniging wat professionele Suid-Afrikaanse atlete verteenwoordig, in Pretoria bygewoon en sy steun aan die verenging toegesê.

Die burgerregte-organisasie was in ’n ondersteunende rol betrokke by die stigting van die forum, wat daarop gemik is om as ’n outonome liggaam te funksioneer wat namens sy lede oor kwessies praat wat in atletiek van belang is.

“FASA is daarvan oortuig dat die tyd aangebreek het om ’n vereniging op die been te bring waarby atlete vrywillig en anoniem betrokke kan wees,” het Chris Harmse, ’n voormalige professionele atleet en voorsitter van FASA gesê.

Hy het gesê FASA se doel is om hande te vat met bestaande strukture soos Atletiek SA (ASA) en om verdere ondersteuning te bied sodat atlete hul volle potensiaal kan bereik. Hy het gesê FASA het begrip en respek vir die belangrike rol en verantwoordelikheid wat sportbeheerliggame het.

“Ons sal poog om dié sportbeheerliggame te ondersteun en op watter wyse ook al met hulle saam te werk om ons gemeenskaplike doel te bereik naamlik om Suid-Afrikaanse atletiek meer voorspoedig te maak.”

FASA het reeds aan Fikile Mbalula, minister van sport, die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) en ASA geskryf om hulle te ontmoet oor die rol wat hulle kan speel.

“Benewens die bou van verhoudings, sal ons ook poog om fondse en ondersteuningsprogramme aan ons atlete beskikbaar te stel,” het Harmse gesê.

Johan Cronjé, ondervoorsitter van FASA en voormalige 1 500 m-rekordhouer, het aan Forum Nuus gesê dat FASA die beproewinge en opofferings wat met atletiek gepaard gaan ken, juis omdat die vereniging uit professionele atlete bestaan.

“Ons is ’n vereniging vir atlete deur atlete.”

Hy het befondsing, beserings asook die oorskakeling van atletiek op skoolvlak na professionele deelname en beroepsgerigtheid, beklemtoon as van die kwessies wat FASA wil help aanpak.

“Ons kan namens atlete op ’n vreedsame manier met die regte beheerliggame kommunikeer en help om onduidelikhede uit te skakel en stres te verminder. Sodoende kan atlete fokus op hul oefening en voorbereiding.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het by die bekendstelling gesê Suid-Afrikaanse atletiek het die potensiaal om beter te presteer. “Atlete het ’n platform nodig waar hul belange eerste gestel en hulle gehoor kan word. FASA kan atlete help om hul beste prestasies te lewer deur dié stem te wees.”

Soortgelyke plasings