| | |

AfriForum ondersteun skole met hulppakket waar staatshulp ontbreek

Die burgerregteorganisasie AfriForum sal eersdaags in samewerking met AfriForum Jeug en AfriForum se takstrukture ’n skolehulppakketprojek van stapel stuur om kwintiel 4- en 5-skole landwyd by te staan.

Dié hulppakket sal hierdie skole van inligtingstukke; plakkate oor ’n veilige klaskamer en higiëne; ’n hulpbrongids vir ouers, onderwysers en leerders; elektroniese koorsmeters en handreinigers voorsien. Dié behoefte by hierdie skole het ontstaan nadat Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, aankondig het dat die staat net kwintiel 1- tot 3-skole sal bystaan met die nodige hulpbronne en maatreëls wanneer die skole weer heropen.

“AfriForum beskou hierdie hulppakket aan kwintiel 4- en 5-skole as ’n noodsaaklikheid. Hierdie is maar net nog ’n manier van die staat om teen skole wat gehalteonderrig lewer te diskrimineer. Hierdie skole ervaar ook finansiële druk en is nie in ’n posisie om al hierdie benodighede self te finansier nie. Hulp van die staat moet aan alle skole verleen word en nie net aan sekere skole nie,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

“Die verspreiding van hierdie pakkette sal in die laaste week van Mei geskied sodat skole gereed kan wees vir heropening. Ons het reeds talle versoeke van skole ontvang wat hierdie pakkette benodig,” voeg Bloem by.

AfriForum wil skole wat ook ’n behoefte aan hierdie hulppakket het, uitnooi om voor of op 22 Mei 2020 ’n e-pos te stuur aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings