|

AfriForum ondersteun VUKO in stryd om regverdige behandeling van isiNdebele

Die Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO), wat deur AfriForum ondersteun word, het ’n petisieveldtog van stapel gestuur vir die regverdige behandeling van isiNdebele deur die SAUK ten einde gelyke behandeling van alle Suid-Afrikaanse tale te verseker.

“As belasting- en TV-lisensiebetalers weier ons om soos tweedeklasburgers in ons geboorteland behandel te word. Die SAUK oortree Artikel 10 van die Handves van Menseregte deur die amaNdebele hul inherente waardigheid te ontneem, asook hul reg tot respek vir en beskerming van hul menswaardigheid,” sê Elias Mahlangu, adjunksekretaris van VUKO.

“Gemeenskappe moet verantwoordelikheid daarvoor neem om hul burgerregte op te neem – dié regte kan nie sonder moeite realiseer nie. Om ons tale te bewaar en te ontwikkel, moet gemeenskappe hulself organiseer en hard werk sodat hulle selfonderhoudend kan wees en in staat is om ’n toekoms te skep wat hulle graag vir hul kinders wil gee,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum.

“Ons moedig alle amaNdebele aan om saam te staan en die petisie te onderteken om te eis dat alle isiNdebele-sprekers met waardigheid en op gelyke grondslag met sprekers van ander tale behandel word,” sluit Mahlangu af.

Die petisie is in sowel isiNdebele as Engels beskikbaar.

Soortgelyke plasings