AfriForum #OnsDorp-veldtog: Potchefstroom-tak herstel bykans 150 slaggate


Die AfriForum-tak in Potchefstroom het die eerste week van Oktober aan die herstel van byna 150 slaggate in Potchefstroom afgestaan. Die projek vorm deel van dié burgerregte-organisasie se #OnsDorp-veldtog, wat daarop gemik is om probleme in dorpe self op te los.

Meer as 90 slaggate is in Paryslaan herstel nadat talle inwoners oor die ellendige toestand van dié laan gekla het. Die span het ook verkeerstrepe geverf en -tekens by die kruising van die N12 en MC Rhoodestraat vervang, waarna  hulle die opknappingswerk op 6 Oktober by Klingenbergstraat voortgesit het, en ’n verdere 50 gate op 8 Oktober in Paryslaan herstel het.
Volgens Kappie van Wyk, waarnemende voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, bestaan dié formidabele span uit ’n groep vrywilligers wat daagliks van vroegoggend tot laatmiddag om vir Dirk Venter by te staan. Venter het bekendheid verwerf weens die talle slaggate wat hy reeds in Potchefstroom herstel het.

“Ons mikpunt met die #OnsDorp-veldtog is om hoop in ons gemeenskap te skep. Ons wil elke persoon bedank wat hul tyd opgeoffer het om Potchefstroom vry, veilig en voorspoedig te maak,” sê Van Wyk.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings