AfriForum ontbloot korrupsie by lisensiekantoor

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verdoemende dokumentêr bekendgestel wat korrupsie by die Waltloo-lisensiekantoor sowel as die wanfunksionering van die NaTis-stelsel ontbloot. Uit die beeldmateriaal word dit duidelik dat derde partye in samewerking met korrupte personeel die funksionering van die lisensiestelsel kaap.

Dit volg nadat die organisasie in September 2021 ’n formele klag by die kantoor van die Openbare Beskermer ingedien het, waarin versoek is dat ondersoek na wanadministrasie en korrupsie by die Departement van Vervoer ingestel word. Die Openbare Beskermer het bevestig dat die klagtes ondersoek word en die beeldmateriaal is as verdere bewys van die beweerde wederregtelike praktyke ingedien.

“Die beeldmateriaal lê die probleem van korrupsie en wanadministrasie by die Departement van Vervoer en lisensiekantore bloot. In hierdie konteks word dit toenemend moeiliker vir wetsgehoorsame lede van die publiek om die Departement se reëls na te kom,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die Departement van Vervoer is dit aan die publiek verskuldig om te verseker dat lisensiestelsels na wense funksioneer en dat sowel fisiese as aanlyn infrastruktuur in stand gehou word. AfriForum se dokumentêr dien as nog ‘n bewys van die Department van Vervoer se stelselmatige ineenstorting op alle terreine. Die ellendige toestand waarin die Departement van Vervoer sigself bevind, is ‘n nasionale verleentheid op die skaal wat net die ANC kan vermag,” sluit Duvenage af.

Teen hierdie agtergrond, herbevestig AfriForum sy toewyding om verdere druk op die Departement van Vervoer uit te oefen om sy plig van behoorlike dienslewering aan die publiek na te kom.

Help AfriForum met hierdie veldtog deur jou persoonlike klagtes aan die Departement van Vervoer te stuur.

Soortgelyke plasings