|

AfriForum ontmoet met onafhanklike taalvereniging in Nederland

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en hoof van die burgerregte-organisasie se internasionale skakeling, het vandeesweek met verteenwoordigers van verskeie Nederlandse universiteite, asook die uitvoerende hoof van Onze Taal, die tweede grootste onafhanklike taalvereniging in die wêreld, vergader.

Volgens Bailey is die Onze Taal-vereniging ʼn dinamiese organisasie met meer as 13 000 betalende lede. Die groep het ook verskeie verbeeldingryke projekte om die Nederlandse taal te bevorder en hanteer meer as ‘n miljoen taalnavrae per maand.

Sy het ook as deel van dié toer vandeesweek as gasspreker opgetree in Marken by ʼn vergadering van die jeuggroep Christen Democratisch Jongeren Appèl (CDJA) van Overijssel.

Sy het gesels oor erfenisskending en dekolonialisasie in Suid-Afrika, na aanleiding van die onlangse skending van beelde in Hoorn, Nederland, wat die VOC-tyd herdenk.

Volgens Bailey is daar interessante parallelle tussen die #Rhodesmustfall-beweging en die groep wat vir die verwydering van dié beelde verantwoordelik was. Sy meen dit was ʼn besondere stimulerende gesprek om te voer.

As deel van ‘n program van South African Monitor in Den Haag, het sy ook vandeesweek ʼn referaat oor AfriForum se regsaksies teen Suid-Afrikaanse universiteit se taalbeleide aangebied.

Dr. Heinrich Matthee, ʼn politieke risiko-ontleder en akademikus, het ook tydens dié geleentheid ‘n referaat oor internasionale taalregte, markdenke en politieke ordes gelewer, waarna verskeie gesprekke oor aangewese temas soos die belang van ‘n lingua franca, die verengelsing van Nederlandse onderriginstellings en die belang van moedertaalonderrig, gevoer is.

Dié ontmoetings vind plaas as deel van AfriForum se skakeltoer om internasionale betrekkinge tussen die burgerregte-organisasie en ander Afrikaanse stamlande verder uit te bou.

Soortgelyke plasings