AfriForum oor Centurion-grondeis: Dit is ál grond wat ons sal gee


AfriForum het vandag ’n memorandum aan ’n verteenwoordiger van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming oorhandig, waarin dié burgerregte-organisasie hul besware teen ’n massiewe residensiële grondeis in Centurion uiteensit. AfriForum het ook agt kruiwaens vol grond (om die agt woongebiede uit te beeld wat deur dié grondeis geraak word) na die departement gevat met die boodskap: “Dit is ál grond wat ons bereid is om te gee.”

“Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het op 22 Februarie aangekondig dat onroerende eiendom wat deur hierdie eis geraak word nie onteien sal word nie. Dít volg ná AfriForum se volgehoue druk en mobilisering van die geaffekteerde gemeenskap. Finansiële vergoeding vir die eiser word steeds oorweeg en die omvang daarvan is ook nie deur die departement bekend gemaak nie. Ons kan nie daarop staatmaak dat die departement wel geen eiendom gaan onteien nie, aangesien ervaring geleer het dat ’n mens nie op die regering se woord kan peiltrek nie. Die eis is ook uiters opportunisties aangesien die eisers meer as 20 jaar gewag het om die eis in te stel – nadat al die grond ter sprake reeds ontwikkel is. AfriForum kan nie toelaat dat belastingbetalers se geld vermors en huiseienaars verontrief word weens die beperkings wat grondeise op hulle plaas nie. Ons sal daarom voortgaan om eiendomsreg te beskerm en aanslae daarop teen te staan,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Meer as 500 lede van die gemeenskap het verlede week tydens AfriForum se gemeenskapsvergadering oor die aangeleentheid aan dié burgerregte-organisasie ’n formele mandaat gegee om die residensiële grondeis in Centurion teen te staan. Dit volg ná die grondeis in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is, wat ongeveer 4 000 hektaar se onroerende eiendom en nagenoeg 2 000 huisgesinne betrek.

“Hoewel die minister te kenne gegee het dat geen eiendom in hierdie eis onteien gaan word nie, is dit steeds belangrik dat elkeen wie se eiendom hierdeur geraak word aan AfriForum hul mandaat gee om dit teen te staan. AfriForum het nog geen formele versekering ontvang dat eiendom nie onteien gaan word nie. Indien jou eiendom geraak word en AfriForum het nié jou mandaat nie, beteken dit dat ons jou nie in die teenstaan van hierdie eis kan verteenwoordig nie. Mandaatvorms kan by www.afriforum.co.za/grondeis afgelaai word en mense kan ook daar uitvind of die grondeis hul eiendom affekteer. Die oorspronklike mandaatvorms kan geskandeer en per e-pos aan AfriForum gestuur of by AfriForum se kantoor ingehandig word. Mense kan die vorms ook by ons kantoor te Unionlaan 58, Kloofsig, Centurion kom invul,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

AfriForum het ook ’n dertienpuntplan gereed om die grondeis te beveg en sal verskeie ander aksies van stapel stuur om die gemeenskap te ondersteun. Dit sluit die inwin van regshulp in om die eis te beveg. AfriForum het reeds ’n versoek aan die toepaslike kommissie gerig en uitstel versoek om voorleggings teen die gemelde eis te lewer. AfriForum het ook meer besonderhede oor dié eis van die kommissie versoek.
Getekende memorandum.
 

Soortgelyke plasings