|

AfriForum oor NGV: Regering is verantwoordelik vir siek gesondheidstelsel

As deel van AfriForum se veldtog teen die vernietigende wetsontwerp oor nasionale gesondheidsversekering (NGV) het die burgerregteorganisasie op Donderdag 12 September 2019 sy kommentaar daarteen by die parlementsgebou ingedien. AfriForum het ook versoek dat die verteenwoordiger van die portefeuljekomitee oor gesondheid die burgerregteorganisasie van die datums en plekke vir die openbaredeelnameproses oor dié wetsontwerp voorsien.

Die regering – en spesifiek die gesondheidsdepartement – se baanrekord vir die besteding van belastinggeld, en die bestuur van staatsbeheerde entiteite is, om die minste te sê, power. Die departement kan dus nie met meer as R446 miljard per jaar (dis wat AfriForum bereken NGV gaan kos) vertrou word om die gesondheidsorg van die hele land se mense te bestuur nie.

Volgens die Ouditeur-Generaal (OG) se 2017/2018-ouditverslag word net meer as die helfte van die nasionale departementele begrotings aan die departement van onderwys, van gesondheid en van openbare werke toegeken, asook vir die inwerkingstelling van sleutelprogramme om die gesondheid en welsyn van burgers te bestuur. Tog toon dié drie departemente die swakste uitsette van alle departemente. Die provinsiale gesondheidsdepartemente het nóg swakker gevaar en is volgens die OG in ’n haglike toestand. Die totale tekort wat provinsiale gesondheidsdepartemente vir dié tydperk getoon het, is R8,4 miljard.

“Dit is dus duidelik dat verreikende ingryping in provinsiale gesondheidsdepartemente noodsaaklik is. Die NGV is egter nié die manier om dit te doen nie. Minister Zweli Mkhize behoort eerder sy aandag aan die regruk van die gesondheidsdepartement te wy. Dit sluit die aanstel en opleiding van bekwame mediese personeel, die opgradering van bestaande staatshospitale en -klinieke, asook die drastiese besnoeiing van ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende uitgawes in,” sê Natasha Venter, AfriForum se veldtogbeampte vir die NGV.

Volgens Venter behoort die regering juis versigtig te wees vir programme soos die NGV, aangesien dit meer druk op die reeds wankelende staatsgesondheidstelsel gaan plaas.

“’n Aanvullende stelsel, waar mense kan kies om privaat gesondheidsorg te ‘koop’ as hulle dit kan bekostig, verlig juis druk op die staat se beperkte hulpbronne, wat in praktyk die vlak van gesondheidsorg vir almal behoort te verhoog. Ongelukkig is daar fundamentele gebreke in ons staatsgesondheidstelsel: wanbesteding en onverantwoordbaarheid. Totdat dít opgelos word, gaan die land se gesondheidsorgstelsel siek bly. Belastingbetalers kan egter nie meer gedwing word om vir die regering se gebreke op te dok nie.”

AfriForum se NGV-verslag

Soortgelyke plasings