AfriForum oortuig dat Malema-uitspraak haatspraak is: Dien hersieningsaansoek teen MRK-beslissing in


AfriForum het vandag ’n hersieningsaansoek by die Suid-Gautengse hoë hof ingedien teen die Menseregtekommissie (MRK) se bevinding dat Julius Malema, leier van die EFF, se uitsprake teen wit mense nie haatspraak is nie.

Dít volg nadat AfriForum in November 2016 ’n klagte by die MRK teen Malema ingedien het ná hy die volgende by ’n EFF-byeenkoms gesê het: “…They found peaceful Africans here. They killed them. They slaughtered them like animals. We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now. What we are calling for is the peaceful occupation of the land and we don’t owe anyone an apology for that…”

“AfriForum kan nie die MRK se bevinding dat Malema se opmerkings nié haatspraak is nie, onbetwis laat nie. Malema se stellings voldoen volgens AfriForum aan al die vereistes vir haatspraak ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, 2000 (wetno. 4 van 2000). Dit is kommerwekkend dat die MRK hom met hul bevinding beskerm en sulke uitlatings in wese regverdig, maar slegs as dit in ’n sekere konteks en deur sekere rasgroepe gemaak word,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

Die MRK se bevinding is verder in kontras met ’n werksdokument van die Verenigde Nasies se Werksgroep oor Minderhede wat bepaal dat alle minderhede, ongeag hul finansiële welvaart al dan nie, se regte beskerm moet word.
AfriForum kan nie toelaat dat individue met politieke mag, soos Malema, wegkom met rassistiese uitlatings nie. Ondersteun AfriForum in hierdie stryd: SMS “Haatspraak” na 32782 (R1).

Soortgelyke plasings