| |

AFRIFORUM OORTUIG OOR POLITIEKE INMENGERY NÁ SLAGOFFER GEDREIG WORD

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê sy vermoede dat ’n beweerde verkragter polities beskerm word, is vandag weer eens bevestig deur gebeure by die streekshof in Somerset-Oos in die Oos-Kaap.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, verteenwoordig die slagoffer, Celeste Gouws, wat in 2017 na bewering in haar eie huis verkrag is nadat sy vermoedelik bedwelm is. Dit volg nadat die direkteur van openbare vervolgings in die Oos-Kaap geweier het om vervolging teen die verdagte in te stel.

Vandag het ’n groep mense, sommige geklee in ANC-T-hemde, die slagoffer en van AfriForum se ander getuies verhoed om die hof se perseel te betree. Die slagoffer is ook tydens die gebeure gedreig en daar is aan haar gesê dat haar dae getel is.

Nadat lede van AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het, het die polisie uiteindelik toegetree.

Toe die verrigtinge uiteindelik afgeskop het, het die beskuldigde eers geweier om in die beskuldigdebank te verskyn, omdat hy glo nie deur die media blootgestel wou word nie. Nadat die landdros, Eric Mbiyo, aangedui het dat sy weiering om te verskyn tot inhegtenisneming kan lei, het hy wel die beskuldigdebank betree.

Die saak is nou vir ’n derde keer uitgestel vir verhoor omdat die beskuldigde weereens van regsverteenwoordigers verander het en sy nuwe regspan eers op hoogte met die saak moet kom. Volgens AfriForum is dit uiters teleurstellend dat ’n beskuldigde eenvoudig kan aanhou om die regsproses uit te stel sonder enige nagevolge.

“Ons is baie teleurgesteld deur die hof se onvermoë om toe te sien dat sy eie reëls nagekom word. Die hof se versuim om te verseker dat die verhoor vandag begin, het ongelukkig nou tot gevolg dat die slagoffer se saak benadeel is, aangesien ’n sleutelgetuie in die saak die einde van die week emigreer. Die versuim om die getuienis aan te hoor het onherstelbare skade aangerig aan die slagoffer se saak. Ten spyte van die regering se voortdurende beloftes op Menseregtedag om geslagsgebaseerde geweld stop te sit, het hierdie uitstel van die saak weer eens die onaanvaarbare situasie geskep waar die slagoffer die traumatiese  gebeure van die voorval moet herleef, aangesien die saak nie tot ‘n punt kom nie,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings