| |

Kyk: AfriForum optrede laat Lephalale-munisipaliteit wakker skrik oor rioolprobleme

 

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die Lephalale-munisipaliteit in Limpopo het minder as ‘n halfuur nadat AfriForum skrywes en emmers vol onverwerkte riool by hul kantore afgegee het, ‘n munisipale werker uitgestuur na twee van dié dorp se rioolpompstasies. Mc Masoga, die munisipaliteit se uitvoerende bestuurder van infrastruktuur, het ook onderneem om dringend hul plan van aksie rondom Ellisras se foutiewe pompstasies, wat sedert 2017 grootskaalse besoedeling veroorsaak, aan AfriForum te stuur.

Dié aktivistiese aksie het plaasgevind as deel van die burgerregte-waghond se #VegEnBou-veldtog wat vandeesweek in Ellisras geloods is. Staatsentiteite is heeltemal vervalle en gemeenskappe sal nou meer as ooit moet saamwerk om ’n toekoms vir hulself in die land te skep. Daarom het die organisasie dié veldtog van stapel gestuur wat daarop gemik is om gemeenskappe te mobiliseer om hul toekoms in hul eie hande te neem.

“AfriForum skep ’n toekoms met ’n veg-en-bouplan. Die plan behels kortliks dat AfriForum vir geregtigheid en teen agteruitgang veg, maar dat die organisasie terselfdertyd prakties op voetsoolvlak alternatiewe werklikhede help bou wat dit vir ons gemeenskap moontlik maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid en selfbestuur na ons eie belange om te sien,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die #VegEnBou-veldtog vind vandeesmaand in die noordstreek (Gauteng, Limpopo en Mpumalanga) plaas waartydens verskeie goedvoel- en gemeenskapsgedrewe aksies sal plaasvind.

Die #VegEnBou-veldtog in Ellisras is vandeesweek afgeskop met ’n besoek aan die plaaslike DBV, waartydens die jeug opknappingswerk gedoen het en buitebande gebruik het om ’n hindernisbaan vir honde te maak.

Ter ondersteuning van AfriForum se Nasionale Boomplantmaand is mango- en lemoenbome aan die plaaslike brandweer- en polisiestasie geskenk en geplant. Personeel van AfriForum se hoofkantoor en die jeug het ook opknappingswerk by die brandweerstasie gedoen.

Veiligheid was ook van groot belang tydens die #VegEnBou-veldtog. AfriForum se nuwe noordstreek-beheerkamer is amptelik geopen en daar is ook opleiding aan die nuwe beheerkamerpersoneel aangebied. Die tak het ook ’n veiligheidsoudit by die SAVF Maroela Oord Tehuis vir bejaardes gedoen en 30 bottels handreiniger aan dié tehuis geskenk. Verder het die tak en buurtwag saam met die plaaslike polisie in Vaalwater en Ellisras padblokkades gehou.

Gedurende die res van September sal AfriForum se takke in Kempton Park, Standerton en die Moot in Pretoria ook woeker en soortgelyke aksies in hul dorpe pak.

Soortgelyke plasings