AfriForum oudit vullisterreine in die Hoëveld


Die AfriForum-takke in die Mpumalanga Hoëveld het onlangs nege vullisterreine geoudit as deel van dié burgerregte-organisasie se jaarlikse vullisterreinouditveldtog. Altesaam 17 vullisterreine is in die hele Mpumalanga besoek.
Met dié projek gaan AfriForum-takke munisipale vullisterreine na om te kyk of munisipaliteite in dié opsig die mas opkom. Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen, insluitend faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen. Nie een van die vullisterreine in die Mpumalanga Hoëveld het dié oudit egter geslaag nie.

“Dit is skokkend om te sien dat die munisipale besture hul pligte in hierdie verband tot só mate versaak. Talle terreine voldoen nie eers aan die basiese vereistes nie. Sekere terreine het geen omheining nie en daar is ook nie masjinerie vir byvoorbeeld die kompaktering van vullis nie. Op sommige terreine het ons opgemerk dat daar mense is wat deur rommel sif vir privaat herwinning. Dit is baie onveilig, aangesien die mense nie beskermende klere dra nie. Sommige van die terreine wat AfriForum geoudit het, moes volgens munisipale besture al gesluit gewees het, maar ons het opgemerk dat dit steeds in werking is en geen kennisgewings opgerig is om aan te dui dat dié terreine eintlik gesluit is nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoӧrdineerder in Mpumalanga.

Hoëveld-vullisterreine se oudituitslae:

Mpumalanga (Hoëveld)
Bethal Govan Mbeki PM 17%
Delmas Victor Khanye PM 14%
Ermelo Msukaligwa PM 42%
Kinross Govan Mbeki PM 6%
Morgenzon Lekwa PM 1%
Piet Retief Mkhondo PM 57%
Secunda Govan Mbeki PM 42%
Standerton Lekwa PM 26%
Witbank Emalhleni PM 47%

Na afloop van die bekendmaking van die resultate sal AfriForum met die betrokke munisipale besture in kontak tree om moontlike oplossings te bespreek.
Raak vandag betrokke deur “Oudit” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings