|

AfriForum pak minister oor omgewingtragedie in Tsitsikamma Nasionale Park

Die burgerregte-organisasie het onlangs ’n dokument aan Edna Molewa, minister van omgewingsake, gestuur waarin die organisasie sy kommer uitspreek oor die toekoms van die Tsitsikamma Mariene Bewaringsgebied (TMBG).

Dít kom nadat die minister op 16 Desember verlede jaar, ondanks protes van die publiek en verskeie wetenskaplikes, aangekondig het dat 20% van dié bewaringsgebied in die Tsitsikamma Nasionale Park oopgestel gaan word vir vissery.

AfriForum se standpunt is dat dié voorgestelde sones wat vir vissery oopgestel is, ’n negatiewe impak op mariene-ekosisteme in die TMBG sal hê.

“Tot op hede het die departement nog geen wetenskaplike verduideliking vir hierdie besluit gegee nie. Suid-Afrika steek reeds af by ander lande wat bewaarde maritieme parke aanbetref. Navorsing toon dat akwatiese fauna ernstig beskadig kan word as selfs die kleinste visseraktiwiteite hier toegelaat word,” meen Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

Volgens Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement van omgewingsake, is die hoofdoel met die oopstelling die bewaring van die omgewing en om die plaaslike inwoners ook te akkommodeer.

Luidens mediaberigte verwelkom “inheemse bewaarders” van die Tsitsikamma-gebied die departement se besluit.

Hulle meen dat hoewel hul die belangrikheid van die bewaring van biodiversiteit en die volhoubare gebruik van marine hulpbronne verstaan, die sluiting van die gebied as mariene bewaringsgebied destyds sonder ʼn behoorlike konsultasieproses plaasgevind het. Die beswaardes voer aan dat hul reg tot voedselsekuriteit ontneem is en dat die besluit ʼn “produk van ongelykheid, diskriminasie en sosiale onreg” was.

Sekere gemeenskapslede meen ook dit is hul historiese reg om vis te vang in die area en dat dit sal bydra tot die verligting van armoede siende dat sowat 50% van die inwoners werkloos is.

Volgens Boshoff is die oopstel van die TMBG nie ʼn volhoubare oplossing vir hengelaars van die gemeenskap nie. “Oor minder as tien jaar sal daar nie meer ʼn vis in die gebied wees om te vang nie.”

Talle mariene-bioloë en organisasies meen ook dat die minister nie wetenskaplike bewyse in ag geneem het toe sy haar besluit geneem het nie.

Volgens ’n verslag van die Wêreldnatuurfonds (WWF-SA) sal die toelating van selfs beperkte visseraktiwiteite in die TMBG lei tot ’n 16%-afname in besoekers wat jaarliks sowat R4,7 miljoen vir die gebied inbring. Dit sal ook ’n negatiewe impak op kleinskaalse kommersiële visserye en ontspanningshengelaars hê wat tans in aangrensende gebiede visvang.

Bruce Mann, ʼn marine-bioloog by die Oceanographic Research Institute in Durban, sê die departement se besluit sal ʼn negatiewe impak hê op die TMBG se rol as ʼn habitat vir van die land se beste en grootste broeivisse.

Die omgewingbewaringsgroep Friends of Tsitsikamma Association (Fot), waarvan Mann ʼn lid is, het reeds in 2016 genoegsame wetenskaplike bewys tydens ’n hofsaak voorgehou waarom TMBG gesluit moet bly. In dié saak is Fot gelyk gegee dat die departement nie met sy voorgestelde visvangtoetsfase in die gebied mag voortgaan nie.

Volgens Mann het drie voormalige ministers van omgewingsake ook in onderskeidelik 1998, 2007 en 2010 teen die oopstel van die TMBG besluit ná inagneming van wetenskaplike bewyse en die belangrikheid van marine-beskermingsgebiede vir alle Suid-Afrikaners. Hy meen ook dat hoewel die Fot simpatie het met die behoeftes van die plaaslike gemeenskap, die behoeftes van 381 geregistreerde hengelaars nie die voordele wat die TMBG vir die hele land bied, moet oorskadu nie.

Hy sê voorts dat die eksklusiewe oopstel van die gebied vir lede van die gemeenskap ʼn gevaarlike presedent sal skep vir ander bewaringsgebiede in Suid-Afrika. Die Fot het daarom voorgestel dat die departement alternatiewe maniere vind om die gemeenskap ekonomies op te hef.

AfriForum staan die besluit vir die oopstelling van die TBMG teen in die lig van die omgewing-impakstudies en het daarom ’n veldtog getiteld Red ons visse van stapel gestuur. In die dokument aan die departement van omgewingsake vereis die burgerregte-waghond van die minister dat:

  • Indien enige gebied se status as bewaarde gebied weggeneem word, ’n proporsionele uitbreiding in terme van habitat en wetenskaplike bewaringsdoelwitte aangewys moet word om dié betrokke gebied te vervang.
  • ’n Volledige verduideliking gegee moet word vir die besluit om die TMBG oop te stel sowel as wetenskaplike bewyse vir die besluit.

Die burgerregte-organisasie is ook gereed om regsaksie in dié verband te neem.

SMS jou naam na 45354 om die petisie te ondersteun (R1).

 Feite oor TMBG en die minister se besluit:

•      TMBG is die oudste mariene-bewaringsgebied in die wêreld.

•      Hierdie is die habitat van die beste en grootste broeivisse. Hoe groter/ouer die visse, hoe meer eiers kan hulle lê en die voortbestaan van hul spesie bevorder word.

•      ’n Vis van tien jaar oud lê 4 000 eiers, waarvan slegs vier volwassenheid sal bereik.

•      ’n Vis van 30 jaar oud lê 15 miljoen eiers, waarvan 15 000 uitbroei en volwassenheid bereik.

•      Daar is 20 inheemse visspesies binne hierdie bewaringsgebied, wat op geen ander plek in die wêreld voorkom nie.

•      Van die spesies wat in die TMBG voorkom, is nege gelys op die International Union for Conservation (IUCN) se globale rooilys van bedreigde spesies.

·      Die oopstelling van die TMBG gaan plaaslike inwoners op die langtermyn benadeel.

 

 

 Van die visspesies wat gaan deurloop is:

Roman (Chrysoblephus laticeps)

Een van die visspesies wat voordeel getrek het uit die bewaringsgebied. Dié spesie kom op geen ander plek in die wêreld voor nie.

Poenskop (Cymatoceps nasutus)

Hierdie visse kan ouderdomme van 45 jaar bereik en is een van die rifvisse wat die stadigste groei. Die wyfies is eers na tien jaar geslagsryp en na omtrent 18 jaar verander die wyfies van geslag. Op die oomblik is die geslagsgetalle se verhouding problematies, omdat daar nie genoeg teelvisse oor is nie.

Sebravis (Diplodus curvinus hottentotus)

Dié vis kan 33 jaar oud word en word ook nêrens anders in die wêreld aangetref nie.

Wit steenbras (Lithognathus lithognathus)

Dié vissoort kan ’n ouderdom van 30 jaar bereik.

Geelbek (Atractoscion aequidens)

Dié visse kan 9 jaar oud word.

Soortgelyke plasings