|

AfriForum pak projek aan om skole met Covid-hulpmiddels te help

Die Covid-19-krisis gaan skole wat reeds noustrop trek en min of byna geen subsidie van die staat kry nie nog verder in ellende dompel.

Terwyl onderwysers op 25 Mei moet terugkeer skool toe en onderrig vir gr. 7- en gr. 12-leerders op 1 Junie hervat, is hoofde, ouers en beheerliggame van talle privaat en openbare skole diep bekommerd oor waar die nodige beskermende toerusting en ontsmettingsmiddels vandaan gaan kom.

Geen skole het vir die bykomende uitgawes begroot nie en boonop het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en haar departement aangedui dat die regering net kwintiel 1 – 3-skole (die armstes) met maatreëls en hulpmiddels gaan bystaan.

Dit het die burgerregte-organisasie AfriForum genoop om in samewerking met AfriForum Jeug en AfriForum se takstrukture ’n skolehulppakketprojek van stapel te stuur om kwintiel 4- en 5-skole landwyd by te staan.

Dié hulppakket sal hierdie skole van inligtingstukke; plakkate oor ’n veilige klaskamer en higiëne; ’n hulpbrongids vir ouers, onderwysers en leerders; elektroniese koorsmeters en handreinigers voorsien.

“AfriForum beskou hierdie hulppakket aan kwintiel 4- en 5-skole as ’n noodsaaklikheid. Hierdie is maar net nog ’n manier van die staat om teen skole wat gehalteonderrig bied te diskrimineer. Hierdie skole ervaar ook finansiële druk en is nie in ’n posisie om al hierdie benodighede self te finansier nie. Hulp van die staat moet aan alle skole verleen word en nie net aan sekere skole nie,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

AfriForum het reeds talle versoeke vir hulp van skole ontvang.

Volgens Bloem sal die verspreiding van hierdie pakkette in die laaste week van Mei plaasvind om skole te help om gereed te wees vir heropening.

Skole wat  ’n behoefte aan hierdie hulppakket het, kan tot môre (22 Mei) ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za stuur.

Van die skole wat aangedui het dat hulle ’n groot nood voorsien, is die CVO Skool Potgietersrus en die Pro Gratia-leersentrum vir spesiale onderrigbehoeftes in Nelspruit.

AfriForum het verlede jaar in samewerking met verskeie plaaslike gemeenskappe ook ’n selfdoenaksie by Pro Gratia gehou.

Welma Bezuidenhout, een van die bestuurders by die skool, het aan die plaaslike media gesê die finansiële posisie waarin hulle tans is, is ‘n groot bekommernis.

“Ons is geregistreer by die departement van onderwys, maar ontvang egter tans geen subsidie nie. Ons is dus afhanklik van slegs die skoolfonds wat ouers betaal. Van ons ouers is tans onder geweldige druk, en op hierdie stadium kom daar nie fondse in die skool in nie. Die realiteit van die saak is dat slegs 40% van ons ouers skoolfonds betaal het aan die einde van Maart.”

Die leersentrum, met 120 leerders, het dringend geld nodig om hul personeel te kan betaal. Van hulle is in April net gedeeltelik of glad nie betaal nie. Daar is 39 personeellede – ongeveer een onderwyser en een onderwysassistent vir elke agt kinders.

Die CVO Skool Potgietersrus het sowat 160 leerlinge en die hoof, mnr. Jan Harmse, is veral bekommerd oor waar hulpmiddels vandaan gaan kom om die verspreiding van die Covid-virus te bekamp. “Ons kry geen subsidie van die staat nie en ons het nie geld vir hierdie bykomende uitgawes nie.”

Intussen is die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die onderwysvakbonde ook bekommerd oor die provinsiale onderwysdepartemente se vermoë om te verseker dat skole gereed is om op 1 Junie te heropen.

Daar is groot onduidelikheid oor onderwysers se vrese oor hul veiligheid wat nie hanteer is nie. Hulle weet nie hoe gesonde afstand gehandhaaf gaan word nie en wat by skole gaan gebeur as al die onderwysers nie aanmeld nie.

Die vakbonde is bekommerd oor of hulpmiddels betyds by skole gaan uitkom gegewe die vlak van onbevoegdheid op veral provinsiale vlak.

Soortgelyke plasings