|

AfriForum plaas druk op Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit oor rioolprobleem in Upington

Nadat AfriForum verlede maand ’n dringende skrywe aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit in Upington gerig het, het die munisipaliteit onlangs gereageer en onderneem om rioolprobleme in dié dorp aan te spreek.

AfriForum het op 21 Julie 2020 ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig oor onverwerkte riool wat in verskeie woongebiede in Upington uit mangate en dreine loop. Inwoners en plaaslike rolspelers het AfriForum genader om druk op die munisipaliteit te plaas om te verseker dat dié probleem dringend opgelos word.

“Dit is skokkend om te sien hoe hierdie onverwerkte riool in woongebiede vloei en dit is vir die gemeenskap ’n groot frustrasie as hulle geen reaksie kry wanneer hulle probleme aanmeld nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari-streek.

Op 29 Julie het AfriForum positiewe terugvoer vanaf die munisipaliteit ontvang. Luidens ’n dokument wat die munisipaliteit in reaksie gestuur het, sal verskeie projekte binnekort aangepak word om die rioolprobleem op te los.

Die munisipaliteit het onder meer erken dat die rioolstelsel opgegradeer moet word en het bevestig dat verskeie projekte reeds goedgekeur is om die stelsel te verbeter. Die projekte het elk ’n sperdatum wat wissel van 31 Augustus 2020 tot 30 November 2022.

AfriForum sal die situasie deurlopend dophou om te verseker dat die projekte wel deurgevoer word.

Soortgelyke plasings