AfriForum plaas verdere druk op regering om weg te doen met TV-lisensies en om die SAUK te privatiseer

Skrap TV-lisensies en privatiseer die SAUK – dّít was AfriForum se eis vandag tydens sy parlementêre mondelinge voorlegging. Die burgerregteorganisasie se voorlegging was gerig op die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie SOC BPK [B32-2023] wat vroeër hierdie jaar oop gemaak is vir publieke kommentaar deur die portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie.

Volgens AfriForum is hierdie twee koersveranderings die verstandigste oplossing vir die SAUK se langdurige en voortslepende stryd met befondsing, korrupsie, wanbestuur en verkwiste uitgawes. AfriForum se primêre oplossing stel die privatisering van dié staatsinstelling voor. As die regering egter die desentralisasie van staatsmag verwerp, is die alternatief om weg te doen met TV-lisensies. Hoe dit ook al sy, die huidige disfunksionele status quo kan nie voortduur nie. Vroeër hierdie jaar het AfriForum geskrewe kommentaar by die portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie ingedien rakende hierdie wetsontwerp wat vir dieselfde oplossings gedruk het.

AfriForum voer in sy geskrewe voorlegging aan dat privatisering die SAUK tot beter doeltreffendheid, hoër gehalte programme en finansiële stabiliteit sal lei. Privatisering sal ook help om korrupsie en wanbestuur te beveg. Met betrekking tot die wegdoen van TV-lisensies, het AfriForum die hemelhoë koerse van ontduiking en nie-nakoming aangehaal, asook die onregverdigbare bykomende finansiële las wat dit op arm huishoudings plaas. AfriForum het ook moontlike alternatiewe bronne van finansiering ter tafel gelê.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, het die Suid-Afrikaanse regering al meer as genoeg tyd gehad om die agteruitgang en droewige stand van sake by die SAUK om te keer. Dit is tyd vir ’n alternatief – ’n benadering wat nie staatsgesentreer is nie. 

“TV-lisensies is ’n ondoeltreffende, verouderde bron van finansiering vir die SAUK. In 2023 het die ontduikingskoers van lisensiebetalings op ’n hemelhoë 87% gestaan. Daar moet dus weggedoen word met TV-lisensies en dit moet vervang word met ’n alternatiewe finansieringsmodel wat waarlik werk. In die geval van ’n geprivatiseerde SAUK, sal TV-lisensies ook vanselfsprekend tot die verlede behoort,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings