|

AfriForum-plaaswag en polisie hou suksesvolle padblokkade

AfriForum se Matlabas-suid-plaaswag wat deel is van AfriForum se Thabazimbi-tak het saam met die SAPD ’n padblokkade gehou waartydens drie arrestasies uitgevoer is.

Die Hoopdal-polisiestasie hou gereeld padblokkades saam met AfriForum se Matlabas-suid-plaaswag en vyf plaaswaglede het ses polisiebeamptes op 15 Augustus bygestaan tydens ’n padblokkade op die Thabazimbi-Ellisras-pad.

Altesaam 44 voertuie is afgetrek, twee boetes is uitgereik terwyl drie onwettige immigrante in hegtenis geneem is.

Gustav Opperman van die plaaswag bedank graag die SAPD vir die professionele wyse waarop hulle die padblokkade hanteer het en met die gemeenskap saamgewerk het. “Dit is vir ons ’n voorreg om saam met die SAPD te werk om ons gebied te beveilig.”

“Hierdie is ’n toonbeeld van puik samewerking tussen die SAPD en gemeenskappe. Nie net beveilig hierdie aksie die Matlabas-omgewing nie, dit beveilig die hele land deur onwettige immigrante toegang te ontsê. Hierdie samewerking en voorkomende polisiëring is die fondasie van enige gemeenskapveiligheidsinisiatief. So maak ’n handjievol mense ’n reuseverskil,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Raak by AfriForum in Limpopo betrokke: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot). Of SMS “noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings