| |

AfriForum-plaaswag in Koekenaap trek dwelmsmokkelaar vas

AfriForum se Koekenaap-plaaswag, wat deel vorm van die organisasie se Vredendal-tak, het op 17 Mei 2020 in samewerking met die plaaslike SAPD omstreeks 15:30 ’n verdagte dwelmsmokkelaar vasgetrek en in hegtenis geneem.

’n Verdagte voertuig is omstreeks 14:30 gewaar en verdere ondersoek is ingestel. Die plaaswag is onmiddellik geaktiveer, waarna die verdagte voertuig agtervolg is. Ná verskeie pogings is die verdagte voertuig by ’n padblokkade tot stilstand gedwing wat intussen opgerig is. Die verdagte het egter te voet op die vlug geslaan, maar is vinnig aangekeer. Die SAPD het op die voertuig beslag gelê en dwelms daarin gevind.

“Ons is dankbaar vir die oplettendheid van die plaaswaglede, asook hul spoedige optrede. Ons probeer altyd om die SAPD by te staan en ten volle te ondersteun om ons gemeenskap veilig te hou,” sê Wilco Engelbrecht, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Vredendal-tak.

“Die voorval beklemtoon weer eens hoe belangrik doeltreffende kommunikasie en samewerking is in die voorkoming van misdaad in ons gemeenskappe,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings