|

AfriForum plant meer as 2 500 bome vir ’n groener toekoms

AfriForum het vanjaar nagenoeg 2 530 bome landwyd geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se nasionale boomplantmaandprojek.

Ter afsluiting van hierdie projek het AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand in die laaste week van September meer as 500 bome in Orania geplant. Tydens die tweede fase van hierdie projek gaan nóg 500 bome gedurende Oktober in Orania geplant word.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se omgewingsakebestuurder.

Terwyl die wêreld nou verdeeld is oor die kwessie van klimaatsverandering en aardverwarming, soos getoon deur die #ClimateStrike, glo AfriForum dat dit nie sinvol is om net hieroor te praat en debatte te voer nie. Almal wat besorgd is oor die omgewing en klimaat kan self ’n verskil maak deur elk net een inheemse boom te plant. Sowel individue as regerings moet eerder die voorbeeld van Etiopië volg, wat vroeër vanjaar binne 12 ure meer as 350 miljoen bome geplant het. Die impak van soortgelyke aksies sal verrykend vir ons samelewing wees!

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak en in ons toekoms te belê,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings