|

AfriForum prys skool met positiewe dissipline

“Duidelike riglyne en reëls in skole is sinoniem met doeltreffende onderrig en leer.”

Só sê Carien Bloem, AfriForum se veldtogkoördineerder vir onderwys oor die burgerregte-organisasie se Wandel met Waardigheid-kompetisie, wat ten doel het om skole en leerlinge bewus te maak van positiewe dissipline op die skoolterrein en in die klaskamer.

Die onderskeie kategorieë van die kompetisie waarvolgens deelnemers beoordeel is, is die skool met die beste dissiplinebeleid en die leerling met die beste voorstel om die skool se bestaande dissiplinebeleid te verbeter.

“Enige skool of leerling het die geleentheid gehad om vir die kompetisie in te skryf,” sê Bloem.

Hoërskool Middelburg in Mpumalanga is vanjaar met die toekenning vir die skool met die beste dissiplinebeleid beloon en Nina Mostert, ʼn graad 11-leerder van Helpmekaar Kollege in Johannesburg, het die leerdertoekenning vir die beste dissipline ontvang.

Volgens Bertus Steyn, dissiplinehoof by Middelburg, is hul skool se dissiplinebeleid danksy deursigtigheid baie doeltreffend. Hy het aan Forum Nuus gesê dat die skool ʼn groot verbetering in leerlinge se gedrag gesien het sedert hulle dié beleid vier jaar gelede geïmplementeer het.

“Ons benadering tot dissipline is nie so rigied soos baie ander skole s’n nie, daarom word ons dissiplinebeleid ook jaarliks opgedateer en leerlinge het ʼn aandeel in die opstel en evaluering daarvan.”

Hy sê voorts dat Middelburg ʼn waardegedrewe en positiewe benadering volg wanneer hulle dissipline toepas. “Soos wat leerlinge gestraf word as hulle iets verkeerds doen, glo ons ook hulle moet beloon word wanneer hulle iets goed doen.”

Dit is die tweede jaar dat AfriForum die Wandel met Waardigheid-kompetisie vir skole aanbied. Dié kompetisie is ook deel van ’n veldtog wat AfriForum begin het in reaksie op toenemende bekommernis oor swak skooldissipline wat aan die orde van die dag is.

Volgens Bloem, ly beide leerders en onderwysers se werksprestasie onder swak dissipline. Sy meen dit is belangrik dat dissipline deel van ʼn kind se opvoeding en waardesisteem op skool moet wees. “Dit is belangrik om verantwoordelikheid vir jou dade te neem en kinders moet besef dat gedissiplineerdheid ʼn eienskap is wat jy jou hele lewe lank gaan nodig kry.”

Besoek gerus AfriForum se webblad by www.afriforum.co.za of stuur ’n e-pos aan Carien Bloem by carien@afriforum.co.za vir volledige inligting oor die kompetisie of om jou skool volgende jaar in te skryf.

 

Soortgelyke plasings