|

AFRIFORUM PUBLISEER BELASTINGMANIFES; VERKLAAR DISPUUT MET REGERING OOR BELASTING

AfriForum het vandag ’n belastingmanifes gepubliseer waarin dié burgerregteorganisasie ’n dispuut met die Suid-Afrikaanse regering verklaar oor die voortdurende vermorsing van belastingbetalergeld. AfriForum sê dat ’n algemene belastingopstand onafwendbaar is indien die voortdurende plundering van die staatskas en die stoomroller van destruktiewe beleidsidees nie summier gestaak word nie.

Die publiek word gevra om hul steun tot die belastingmanifes te verklaar deur www.belastingveldtog.co.za te besoek.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, verduidelik dat AfriForum nie beoog om ’n belastingboikot te organiseer nie, maar dat die publiek toenemend daarop aandring en dat simpatie met dié idee ook groei. “Ons doel is om só ’n belastingopstand te verhoed deur op ingrypende optrede aan te dring eerder as om dit aan te moedig,” sê Roets. “Dit blyk egter dat daar nie veel ruimte vir onderhandeling is nie. Die voortslepende, skaamtelose plundering van die staatskas deur senior staatsamptenare, asook die feit dat hoëprofielvervolgings nie gebeur nie terwyl die regerende party voortgaan om destruktiewe beleidsidees deur te voer, laat belastingbetalers met geen ander keuse nie.”

Roets voeg by dat AfriForum namens sy byna 300 000 lede praat, waarvan byna elkeen belastingbetalers is. “As meer mense hul stemme tot dié veldtog voeg deur die manifes te onderskryf, sal dit ons mandaat versterk.”

Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, voeg by dat AfriForum die erkenning van ’n burgerlike belastingsekretariaat eis sodat gemeenskappe groter inspraak het in die wyse waarop belasting aangewend word. “Uiteindelik is groter inspraak en oorsig oor die aanwending van belasting en belastingoutonomie vir gemeenskappe van die belangrikste wyses waarop belastingbetalers weggekeer kan word van vorme van belastingverset,” sê  Kruger.

Die manifes eis onder meer dat:

  • die sekretariaat deur die regering erken word as legitieme liggaam wat ’n beduidende aantal van die land se belastingbetalers verteenwoordig en wat ook ’n konstruktiewe rol het om te speel om toe te sien dat belastingbetalers tevrede is met die wyse waarop hul belastinggeld aangewend word;
  • die president en die ministers van die toepaslike staatsdepartemente met hierdie sekretariaat vergader om die eise te bespreek wat in die manifes uiteengesit word;
  • die wysiging aan die Grondwet om die staat te bemagtig om eiendom sonder vergoeding te konfiskeer onmiddellik gestaak word;
  • die voortgesette befondsing van mislukte staatsondernemings onmiddellik gestaak word; en
  • korrupte staatsamptenare, kaders van die regerende party en hul netwerke onmiddellik vervolg word en verskeie spesialistribunale en howe vir hierdie doel daargestel word, welke tribunale en howe behoorlik bemagtig word en nie aan politieke druk of inmenging onderwerp word nie.

Belastingmanifes

Soortgelyke plasings