|

AfriForum reël vreedsame protesaksie teen plaasmoorde vir Vrydag in Senekal

Die burgerregteorganisasie AfriForum het besluit om voort te gaan met reëlings om Vrydag, 16 Oktober om 10:00 in Senekal ’n vreedsame protesaksie teen plaasmoorde en geweld te hou. AfriForum het hierdie besluit geneem om te verseker dat die vreedsame meerderheid, wat op ’n geordende wyse hulle woede en misnoeë oor die terreur op plase wil toon, se stem nie stilgemaak word deur ’n klein groepie opstokers en die uitlokkende optrede van die EEF nie. AfriForum en geweldgeteisterde gemeenskappe het die volste reg om woedend te wees oor moorde soos dié op die jong Brendin Horner, maar AfriForum glo dit is belangrik dat die billike saak om optrede teen plaasmoorde te eis, nie besoedel moet word deur diegene wat die stryd teen plaasmoorde in onguns wil bring nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan sy organisasie se veiligheidspan in gesprek tree met ander rolspelers, wat landboustrukture soos Saai en die polisie insluit, oor ’n geskikte perseel vir die protesaksie en die maatreëls wat getref gaan word om te verhoed dat groepe met ander motiewe, nie die protesaksie ontwrig nie.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum inligting ontvang het dat die land se veiligheidsdienste ’n klein groepie agents provocateurs tydens verlede week se protesaksie in Senekal ontplooi het om geweld aan te hits en sodoende die stryd teen plaasmoorde en die vreedsame meerderheid deelnemers aan die protes in onguns te probeer bring. Hierdie inligting strook volgens Kriel met AfriForum se veiligheidspan en ander strukture se waarnemings tydens verlede week se protesaksie.

“Daar is waargeneem dat ten minste vyf mans op strategiese plekke in die skare geplaas was en opruiende uitsprake gemaak het. Hierdie mans het deurlopend op hulle selfone met mekaar gekommunikeer en sommiges het selfs maskers gedra wat die hele gesig bedek het om hul identiteit te verdoesel. Toe ’n klein groepie mense, wat deur hierdie opruiende gedrag opgesweep is, die hofsaal bestorm het, het hierdie groep mans na hulle voertuie gehardloop en weggery,” sê Kriel.

AfriForum doen ’n beroep op mense wat op geordende wyse hulle misnoeë met plaasmoorde wil toon, om aan te sluit by die protesaksie wat AfriForum reël en nie toe te laat dat diegene wat protes teen plaasmoorde in onguns wil bring, hulle opsweep tot onaanvaarbare gedrag nie.

Sodra die reëlings vir Vrydag gefinaliseer is, sal AfriForum meer besonderhede oor die protesaksie op sy Facebook-blad en ander mediakanale bekendmaak.

Soortgelyke plasings