| | |

AfriForum: Regering misbruik polisie en weermag om menseregte tydens inperking te skend

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy kommer uitgespreek dat die Suid-Afrikaanse regering besig is om die COVID-19-pandemie te misbruik om sy ideologieë te bevorder en burgers se regte op ’n ingrypende manier te skend. Dit volg ná verskeie kommerwekkende voorvalle waarby vredesbeamptes en ander wetstoepassers betrokke was (insluitend die poging om ’n vierjarige kind met geweld te arresteer), asook die uitsprake van die president en sekere politici. AfriForum gaan daarom bestaande plaaslike veldtogte vir die beskerming en behoud van burger- en minderheidsregte verskerp, en ook ’n internasionale steunwerwingsveldtog van stapel stuur.

AfriForum is tans besig om ’n verslag oor die Suid-Afrikaanse regering se hantering van die pandemie op te stel wat aan die Verenigde Nasies (VN) gestuur sal word. Die VN het onlangs sy kommer uitgespreek oor die “toksiese” handhawing van inperkingsregulasies. Georgette Gagnon, die VN se direkteur van veldbedrywighede, het aan die einde van April die “hoogs gemilitariseerde” bedrywighede in Suid-Afrika betreur, insluitend die gebruik van swepe en rubberkoeëls.

Die mees onlangse voorval van onbillike en arbitrêre optrede van vredesbeamptes het gister in Ballito plaasgevind. Beeldmateriaal doen tans die rondte op sosiale media waar munisipale vredesbeamptes van die KwaDukuza Munisipaliteit ’n vierjarige kind wil arresteer omdat hy na bewering nie COVID-19-regulasies nagekom het nie.

Daar is volgens AfriForum ook verskeie ander faktore wat kommer wek, soos die volgende:

  • Mense word by padblokkades gestop en ondersoek deur lede van die SAPD en weermag wat met outomatiese vuurwapens gewapen is.
  • Die weermag patrolleer gebiede met aanvalsgewere en lewendige ammunisie om wet en orde te probeer handhaaf ter ondersteuning van die polisie.
  • Die president, asook sekere ministers soos Lindiwe Zulu, die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, spreek die media en publiek in militêre drag toe.
  • Bheki Cele, die Minister van Polisie, dreig mense dat die inperkingsreëls strenger gemaak gaan word as die burgery nie gehoorsaam is nie en hy stel ’n algehele verbod op alkohol voor.
  • Buurt- en plaaswagte mag nie patrolleer om gemeenskappe te help beskerm nie – wat mense se veiligheid volkome in die staat se hande plaas.
  • Mense word onder verpligte kwarantyn geplaas in kampe wat nie voldoen aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se standaarde of die standaarde wat deur Suid-Afrika se eie regulasies voorgeskryf word nie. (AfriForum het verlede week ’n hofsaak gewen waar die hof beslis het dat een só ’n kamp, die Zithabeseni-kwarantynkamp, gesluit moet word en die mense vrygelaat moet word.)
  • AfriForum en die vakbond Solidariteit is tans in ’n hofgeding betrokke met die Departemente van Toerisme en van Kleinsakeontwikkeling wat SEB-maatreëls stel as voorvereiste vir die verlening van staatshulp tydens die pandemie.
  • Vredesbeamptes en ander wetstoepassingsowerhede neem lede van die publiek in hegtenis vir die geringe oortredings van inperkingsregulasies, soos ’n gesin wat in Kaapstad in hegtenis geneem is nadat hul kleuter van die sypaadjie af op die strand gehardloop het.
  • Politici maak uitsprake dat regulasies uitgevaardig moet word dat slegs die staat voedsel aan kwesbare mense mag versprei.
  • Die president het besluit dat 19 000 gevangenes op parool vrygelaat moet word, te midde van die huidige omstandighede – wat insluit dat die meeste mense nie toegelaat word om te werk en dus ’n inkomste te verdien nie.

“Dit blyk dat die Suid-Afrikaanse regering se prioriteite in hierdie krisistyd nie die belange van burgery dien nie. Kyk byvoorbeeld na die Minister van Polisie wat klaarblyklik meer bekommerd is oor die verkoop van sigarette en drank as bendegeweld en verkragting. AfriForum gaan nie toelaat dat die regering hierdie krisis misbruik om minderhede se regte te vertrap nie. Ons gaan voort met die aanlyn opleiding van ons buurt- en plaaswagte om te verseker dat mense paraat is om gevaar af te weer. AfriForum se veiligheids- en gemeenskapstrukture help ook met die verspreiding van voedsel aan kwesbare mense in ons gemeenskappe, ondanks pogings deur die regering om die verspreiding van voedsel te sentraliseer,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid.

“Met die aankondiging van hierdie krisis was die regering se uitsprake baie gefokus op hoe om mense teen die virus te beskerm. Dit het egter gedurende die staat van inperking ontaard in stellings oor die transformasie van die ekonomie en ongelykheid. Dit is duidelik dat die regerende party die virus beskou as ’n geleentheid om sy eie ideologiese doelwitte van aggressiewe staatsentralisering en rassediskriminasie te bevorder. Hierdie soort optrede is nie versoenbaar met ’n staat wat beweer dat dit op die beginsels van vryheid, regverdigheid en die reg geskoei word nie. Dit is ’n skending van die waardigheid en mees basiese vryhede van mense,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof vir beleid en aksie.

Soortgelyke plasings