|

AfriForum rig dringende skrywe aan Tshwane Metro oor riool

AfriForum het op 5 Augustus 2020 ’n dringende skrywe aan die Tshwane Metro gerig oor rou riool wat in verskeie woongebiede in Pretoria gestort word. Inwoners en rolspelers van Waverley, die Moot, Môregloed, Villieria, Rietfontein, Valhalla en Mayville het AfriForum oor die rioolprobleme genader om druk op die metro uit te oefen om te verseker dat dié probleem dringend opgelos word.

AfriForum doen ’n dringende beroep op die metro om die rioolprobleme reg te stel, asook om ’n plan voor te lê oor hoe hierdie probleem in die toekoms die hoof gebied gaan word.

“Dit is skokkend om te sien hoe hierdie rou riool in woongebiede vloei. Ons sal aanhou om druk op die metro te plaas om te verseker dat die probleem opgelos word en dat daar antwoorde daaroor verskaf word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Dit is vir die gemeenskap ’n groot frustrasie as hulle geen reaksie kry wanneer hulle probleme aanmeld nie. Dit is waarom dit belangrik is om by AfriForum se strukture aan te sluit sodat ons hierdie probleme saam kan oplos,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

AfriForum het die metro ’n week gegun om hul aksieplan voor te lê en die organisasie sal voortgaan om die situasie te moniteer om te verseker dat dit die nodige aandag ontvang.

AfriForum nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en veldtogte betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings