|

AfriForum rig skrywe aan munisipaliteit oor waterprobleme in Ritchie

AfriForum het aan die begin van Julie 2019 klagtes ontvang oor waterprobleme in die Ritchie-gebied. Inwoners sukkel al vir langer as ’n maand met dié probleme en ’n gemeenskapslid het dit al op meer as een geleentheid by die munisipaliteit aangemeld.

“Klagtes dat die waterdruk só swak is dat ’n mens nie kan stort of twee krane gelyktydig kan oopdraai nie, asook water wat saans afgesny word, is onder ons aandag gebring,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

“AfriForum het op 8 Julie 2019 ’n skrywe aan die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit se waarnemende bestuurder gerig waarin daar gevra is of die munisipaliteit bewus is van die probleme. Daar is ook gevra of die munisipaliteit besig is om die waterinfrastruktuur op te gradeer of te herstel,” sê Smit.

Nomonde Kesiamang, waarnemende munisipale bestuurder, het op 1 Augustus 2019 in ’n skrywe terugvoer gegee. Luidens dié skrywe dra die munisipaliteit geen kennis van die waterprobleme nie.

Opgraderings aan die waterbehandelingswerke is in Mei 2019 voltooi en geen ander herstelwerk word tans gedoen nie.

“Sou lede van die publiek wel steeds probleme met water in die gebied ondervind, kan hulle AfriForum kontak sodat verdere stappe gedoen kan word,” sluit Smit af.

Soortgelyke plasings