|

AfriForum rig skrywe aan Nersa nadat Tshwane-metro sy plig versuim

AfriForum het op 16 Januarie 2020 ’n skrywe aan Nersa gerig en versoek dat ondersoek ingestel word oor waarom die Tshwane-metro nog geen terugbetalings aan koopkragverbruikers gemaak het nie, wat in 2019 ’n onwettige kragtarief moes betaal.

Dít volg nadat die Tshwane-metro op 29 Oktober 2019 tydens ’n bestuursvergadering aan AfriForum belowe het hulle sal verbruikers terugbetaal wat deur die verhoging – wat nie deur Nersa goedgekeur is nie – geraak is. Dié terugbetaling moes al in November 2019 geskied het.

Ingevolge die bepalings van artikel 32(1)(b) van die Elektrisiteitsregulasiewet (ERA), moet Nersa, in toepaslike omstandighede – byvoorbeeld die ontvangs van ’n klag of ondersoek rakende die opwekking, oordrag, verspreiding of handel van elektrisiteit – klagtes ondersoek indien ’n lisensiehouer betrokke is wat versuim om aan sy lisensievoorwaardes te voldoen.

AfriForum het ook op 14 Januarie 2020 ’n opvolgskrywe aan die Tshwane-metro gestuur om te hoor waarom die terugbetalings nog nie gedoen is nie. Geen terugvoer is egter tot dusver van die metro af ontvang nie.

“Ons het die metro meer as genoeg tyd gegee om hul ooreenkoms na te kom. Hulle het versuim om hul pligte na te kom en daarom moet ons as ’n burgerregteorganisasie verdere stappe doen om toe te sien dat inwoners van die Tshwane-metro se regte beskerm word,” sê Jaco Grobbelaar, distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

AfriForum sal voortdurend druk toepas en opvolg om te verseker dat inwoners se geld terugbetaal word.

Raak vandag nog aktief by AfriForum betrokke en help ons om vir jou regte te veg: SMS “Pretoria” na 45341 (R1) en maak ’n positiewe verskil.

Soortgelyke plasings